Tweekuns vir Frikkies

HFM wen Interhoër

 

Op Maandag 27 Februarie 2012 met saalopening is die “Vlam van Trots” aangesteek wat die prestasies van die Interhoër oorwinning simboliseer. Hierdie simboliek is die hoogste eerbetoning in spanverband. Die bestuur van die skool is verteenwoordig deur Mnr Colin Campbell (Skoolhoof), Mnr Prof Erasmus (Hoof – Buite Kurrikulêre Aktiwiteite), Me Elmarie Human (Atletiekorganiseerder), die afrigters deur Me Rentia Erasmus, Me Hendrien Erasmus en Mnr Rhyno Visser (Spanbestuurders) en die atlete is verteenwoordig deur die atletiek spankapteine Carl van der Merwe en Elzanie Davies.

BELA BELA – Hoërskool Frikkie Meyer het ‘n tweekuns behaal met hul tweede agtereenvolgende Bosveld Interhoër oorwinning op Saterdag 25 Februarie 2012 te Bela Bela.

Die Thabazimbiërs het groot fees gevier nadat hulle vir die eerste keer vanaf 1999, vir die tweede agtereenvolgende jaar as wenners uit die stryd kon tree.

Volgelaai met Frikkie Meyer se 139 atlete en 300 sangers het die skoolbusse reeds om 06:00 voor H/S Warmbad, gasheerskool van die 49ste Bosveld Interhoër byeenkoms, stilgehou.

Die leerlinge het met hul gedissiplineerde houding en netjiese skooldrag reeds trots gekweek in elke ouer- en onderwyserhart gedurende die optog wat die leerlinge om die baan geneem het, gelei deur die spankapteine, Carl en Elzani.

HFM het reeds van vroeg voorgeloop en klop die skool naaste aan hulle met 138.5 punte. Hulle behaal: 27 eersteplekke, 30 tweedeplekke en 32 derdeplekke. Die deelnemende skole se uitslae is soos volg: Ellisras in die sewendeplek met 290 punte, Ben Viljoen in die sesdeplek met 355 punte, Hans Strijdom in die vyfdeplek met 367.5 punte, Warmbad in die vierdeplek met 385 punte, Nylstroom in die derdeplek met 473 punte, Piet Potgieter in die tweedeplek met 486.5 punte en HFM in die eersteplek met 625 punte.

In totaal bring HFM sewe trofeë huistoe vir Seuns aflosse, Junior Dogters, Junior Seuns, Senior Dogters, Dogters Totaal, Seuns Totaal en Groot totaal bekers.

Die rekords wat verbeter is: Seuns O/14 100m in 11.49s – Kenneth Boy; O/14 Seuns 300m hekkies in 42.91s – Shaun Tungo en O/15 Seuns spiesgooi 54.55m – ZW van Deventer.

Die volgende leerlinge het drie eersteplekke verower: ZW van Deventer – S O/15 spiesgooi, diskus en gewigstoot, Liandri Botha D O/19 hoogspring, diskus en gewigstoot en Kenneth Boy S O/14 100m, 200m en verspring.

Die volgende atlete het twee eersteplekke verower: Shaun Tungo S O/14 400m en 300m, Tanya Marais D O/17 100m en 200m en Nadine Prinsloo D O/19 200m en 100m hekkies.

Die skool bedank ook die 300 sangers op die pawiljoene. Hulle word bedank vir ure se harde werk en ondersteuning aan elke atleet. Met hulle skitterende vertoning van “Oom Bossie van die Bosveld” het hulle ‘n tweedeplek met 79.32% losgesing. Warmbad wen die sangbeker met 81.81%.

Die spanbestuurders, me Rentia Erasmus, mej Hendrien Erasmus en mnr Ryno Visser word bedank vir hul harde werk asook elke afrigter, atleet, sanger, personeellid en die ouers wat hul kinders so ondersteun sodat die hele gemeenskap gesamentlik in hierdie vreugdevolle dag kon deel.

HFM se 22 atlete wat aan eerskomende Saterdag se Provinsiale byeenkoms te Polokwane gaan deelneem word voorspoed toegewens.