TAR opsoek na vrywilligers

THABAZIMBI- Thabazimbi Animal Rescue (TAR) is absoluut aangewese op vrywilligers om te help met die versorging van hawelose diere, insameling van donasies en die tientalle ander takies wat in hierdie gemeenskapsprojek gaan.

TAR hou op eerskomende Dinsdag, 6 Maart, ‘n vergadering om alle belangstellendes en nuwe vrywilligers hartlik uit te nooi. Die vergadering word in die Bestuurskamer by AB Labour Services in Vanderbijlstraat om 16:30 gehou. Enigeen wat op enige manier betrokke wil raak, is meer as welkom en TAR doen veral ook ‘n beroep op volwassenes om as vrywilligers by TAR betrokke te raak, daar is soveel aspekte waar hulp dringend benodig word.

TAR het op die oomblik 20 hokke wat tans heeltemal vol is, asook verskeie diere wat in pleegsorg geplaas is. Hierdie diere word na omgesien uitsluitlik deur vrywilligers. Die diere word daagliks versorg, kos en water gegee en twee keer per dag uitgelaat vir oefening. Hulle kos- en waterbakke asook slaapplek word daagliks na omgesien en die bakkies en beddegoed moet gereeld gewas word. Die hokke word elke dag skoongemaak en uitgevee en op ‘n gereelde basis deeglik ontsmet deur toegewyde vrywilligers.

Die take eindig nie hier nie. Die hokke en terrein moet deurlopend in stand gehou word. Alhoewel die borgskappe gedeeltelik bydra tot die koste van die materiaal, is hande-arbeid, dit wil sê vrywilligers, nodig om die knippe en afskortings van tyd tot tyd te herstel en die gras te sny asook nat te lei. Af en toe moet die mure ook gewas of selfs geverf word.

Elke dier wat gered word, word eers deeglik deur ‘n veearts ondersoek en ingeënt. Hierdie diere moet eerstens vervoer word na en van die veearts, en daarna vir opvolg ondersoeke of inentings geneem word, weer eens deur toegewyde vrywilligers, met hulle eie vervoer en in hulle eie tyd wat hulle opoffer vir hierdie liefdesdiens.

Steeds is daar nog take wat verrig moet word. Alles kos geld en, alhoewel die gemeenskap TAR goed ondersteun, benodig hulle ongeveer 200kg tot 250kg droë hondekos en 50kg tot 100kg droë katkos per maand. Die kos-aankope word ook deur vrywilligers gedoen. Vir ekstra inkomste bedryf TAR ‘n “Charity Shop” waar vrywilligers sonder enige vergoeding werk. Alle items wat geskenk word, moet geprys en soms gewas of herstel word.

Dan is daar natuurlik die administrasie, waarsonder ‘n besigheid nie kan funksioneer nie. TAR moet soms briewe skryf en korrespondensie voer asook vergaderings hou en sms uitstuur om alles behoorlik te koördineer. Daarbenewens moet volwassenes asook kinders deurlopend opgevoed word om verantwoordelikheid te dra vir hulle diere: ‘n vrywilliger skryf dan ook die bekende “TARRIE”-artikels wat so lekker lees en die kinders leer daaruit… om van die grootmense nie eens te praat nie.

Indien jy by enige van hierdie takies betrokke wil raak, moenie huiwer om Tania van TAR by 084 885 6487 te kontak nie. Die tydjie wat jy daagliks kan afknyp, beteken die wêreld vir hierdie weggooi troeteldiertjies.