Hoedspruit sê dankie

Desiré Wright – Kruger2Canyon News, Hoedspruit

HOEDSPRUIT – Meer as ‘n maand na die verwoestende vloed van 18 Januarie bevind die mense van Hoedspruit hulself steeds in ‘n krisis met ondrinkbare kraanwater wat soms vir dae aaneen af is. Ons is steeds afhanklik van die goedheid van ons naburige dorpe asook die mense van Suid Afrika vir drinkwater. Te midde hiervan, is ons egter ongelooflik dankbaar teenoor mekaar, ons buurdorpe, weldoeners van oral oor die land en natuurlik die luisteraars van Radio Jakaranda.

Op Sondag 26 Februarie het die Kerke Forum van Hoedspruit ‘n gesamentlike dankseggingsdiens gereël. Hoedspruiters uit alle oorde het opgedaag om hul dankbaarheid teenoor God ten eerste en ook alle individue en organisasies te betoon wat dié dorp en sy mense sedert 18 Januarie so ongelooflik goedgesind was.

Tydens die diens in ‘n winkelsentrum se parkeerarea, het almal die geleentheid gehad om hul ervaringe tydens die vloed te deel en ook om dankie te sê aan enigiemand wat hulle gehelp het aangesien die doel van die byeenkoms was om soveel moontlik mense te bedank.

Spesiale melding is gemaak van die onontbeerlike rol wat Lugmagbasis Hoedspruit en Hoedspruit Plaaswag tydens die nood reddingsoperasies gespeel het.

In die afgelope maand en ‘n half het Hoedspruiters geleer hoe om baie spaarsamig met water te werk en ds. Pieter Dorey van die NG Gemeente Kampersrus het almal gevra om wanneer die water situasie na normaal terugkeer, steeds spaarsamig met ons kosbaarste hulpbron om te gaan.

Die vloed het Hoedspruit as ‘n gemeenskap saamgesnoer en ons het geleer om mekaar te waardeer, respekteer en te ondersteun.

‘Hoedspruit het nou die geleentheid om saam as ‘n familie vorentoe te gaan. Die grense tussen mense het geval, daar is nie meer ras nie en ons kan as ‘n gemeenskap vir die toekoms saam werk’ sê Kolonel Andre Barends, nuwe Bevelvoerder van Lugmagbasis Hoedspruit wat met die vloed in sy nuwe posisie ‘gedoop’ is. Hy is letterlik aan die diepkant ingegooi met sy aankoms in Hoedspruit.

Namens Hoedspruit, sê ek baie, baie dankie aan ‘n ieder en ‘n elk wat ons in Hoedspruit tydens ‘n tyd van groot nood bygestaan en ondersteun het.