Groot pret vir kleine Tjokkers

Die Tjokkers se optog tydens die Tjokker atletiekdag.

THABAZIMBI – Die jaarlikse Tjokkers atletiekdag te Laerskool Thabazimbi het op Vrydag 24 Februarie plaasgevind.

Die items het ingesluit Elfie en Feëtjie resies spesiaal vir die klein boeties en –sussies van die 2012 Tjokkerklas, onderskeidelik 60m en 80m swaargooi, vergooi, vêrhop en hoogduik. Die Monkeynastix hindernisbaan sowel as die Abbaresies was die hoogtepunte van die dag, terwyl die mamma- en pappa-aflos vir groot pret gesorg het.

Me Magda Benade, Gr R Hoof, bedank graag almal wat deel was van die Tjokker atletiekdag, insluitende alle Gr R-leerders en hul ouers, die borge wat gehelp het om die dag ‘n sukses van te maak, Monkeynastix, die onderwysers wat as beamptes opgetree het, die mammas wat groepleiers vir die dag was, die Tjokker-ouerkomitee, die helpers by die snoepie, hek, klank, verversings, SAVF en fotograwe sowel as die leiers van die skool, die personeel en Faktotum.