Elzabé slaan raak met koue kos

Rita Volschenk saam met Elzabé Zietsman wat die rol van Clara Brand vertolk in “Dis koue kos, skat”.

THABAZIMBI – Teatergangers het Saterdagaand ‘n dis uit die boonste rake ontvang met Elzabé Zietsman se eenmanvertoning “Dis koue kos, skat”. Ongelukkig was daar talle kaartjies wat bespreek was maar waar mense eenvoudig net nie opgedaag het nie. Daarmee saam het hierdie groepie mense seker een van die beste verhoogstukke ooit op die KunsteGrot se verhoog misgeloop.

Asof so bestel, het die donderweer en harde reënbui wat die vertoning voorafgegaan het bietjie konsternasie veroorsaak toe die hele dorp se ligte uitgeslaan is en die KunsteGrot se kombuis en damestoilette onder water was. Die vertoning kon uiteindelik voortgaan nadat die krag herstel is. Toevallig begin die stuk met die gerammel van donderweer en Clara wat met ‘n flits in die donker rondsoek.

Die stuk is gebasseer op Marieta van der Vyver se jongste boek met dieselfde titel. Hier maak die gehoor kennis met Clara Brand, ‘n korrespondent van faam, wat deur haar briewe en e-posse haarself ontboesem teenoor haar vriende en ontroue man. Alhoewel skreeusnaaks met tye en baie toepaslik op die werklikheid, skreeu sy om wraak teenoor haar man wat haar en haar kinders gelos het vir een van haar beste vriendinne. Iemand met wie sy vriende gemaak het juis omdat sy gedink het die borrelende geaardheid van die heelwat jonger vrou is net dit wat sy nodig het sodat haar eie lewe ook ‘n bietjie opgekikker word.

Clara huiwer nie om iets by die naam te noem nie en die stuk bevat diep ontroerende oomblikke waartydens jy ‘n speld kon hoor val vanaf die gehoor se kant. Elzabé het hier met uitmuntende toneelspel getoon dat sy net so tuis in drama is as in kabaret.

Hierdie is ‘n stuk wat eintlik op jou “moet sien” lysie moet wees. Moenie dat die geleentheid jou weer verbygaan nie.