Northam VLU raak kreatief met loombrei

Northam VLU-dames wat die Streeksvergadering op Valentynsdag te Lephalale bygewoon het, vlnr: Cilea Goosen, Dina Smith, Annatjie Dreyer en Mari Meintjes.

SWARTKLIP – Northam VLU het op Donderdag 16 Februarie 2012 hul maandelikse vergadering aan huis van Cilea Goosen te Swartklip gehou.

Nadat die huishoudelike sake afgehandel is, en die afgelope Streeksvergadering van 14 Februarie te Lephalale bespreek is, het die dames hul loom-breirame uitgehaal. Annatjie Dreyer het die dames die kuns van loombrei geleer. Loombrei herinner aan die outydse tolletjiebrei, en die dames het die kuns spoedig bemeester. Daar was vyf gaste teenwoordig, wat die loombrei baie geniet het, en aangedui het dat hulle dit oorweeg om by Northam VLU aan te sluit.

Die dames sien baie uit na die komende Jaarlikse Konferensie wat op 7 Maart te Vaalwater gehou gaan word. Northam VLU se volgende maandelikse vergadering sal gehou word op 15 Maart te Swartklip. Belangstellendes kan Mari Meintjes skakel of sms op 0820864915.