Plaasmoorde moet ook ‘n prioriteit wees

TLU SA het in ‘n persverklaring gesê hulle is bly om te verneem dat veediefstal in die Vrystaat nou ‘n prioriteitsmisdaad verklaar is. Netso was hulle verheug om te hoor van al die maatreëls wat ingestel word om renosters teen stropers te beskerm.

Te midde van die goeie nuus was daar egter weer ’n plaasmoord, waarin die 71-jarige mev. Ingrid Niebuhr in die huis op haar plaas in die Wakkerstroom-omgewing vermoor is.

“So bly as wat ons is dat sekere misdade wat met boerdery verband hou prioriteitsmisdade verklaar word, so bekommerd is ons dat die regering en polisie nie die aandag aan plaasmoorde gee wat dit verdien nie. Mev. Niebuhr is no 1 555 op TLU SA se databasis van mense wat op plase vermoor is, en ons vermoed dat hierdie getal selfs hoër kan wees,” sê TLU SA se president, mnr. Louis Meintjes.

“Die regering is ons ’n paar reguit antwoorde verskuldig. Ons wil eerstens weet of plaasmoorde en plaasaanvalle nog wel as prioriteitsmisdade beskou word. Ons is ook geregtig om te weet watter maatreëls ingestel word om boere te beskerm, en om moordenaars aan te keer en te vervolg.

“Ons kan al die gesteelde vee terugvind, en ons kan alle renosters beskerm, maar as die boere wat met hulle werk, vermoor word, is daardie aksies absoluut futiel.  Die regering moet sy prioriteite vir ’n slag regkry, want ons kan nie voortgaan om boere teen hierdie tempo te verloor nie.  Sover ons weet is sewe landbouers sedert die begin van die jaar vermoor. Dinge kan nie so aangaan nie,” sê mnr. Meintjes.

Gedurende Januarie het TLU SA gevra vir ’n dringende gesprek hieroor met die Kommissaris van Polisie.

“Sedertdien is nog niks van hulle verneem nie. Ons gaan die saak nou opvolg met die polisie, want ons kan die saak beslis nie net daar laat nie,” sê mnr. Meintjes. (LiN Nuus / Zoutpansberger)