Northam spog met “Helen Park”

‘n Stukkie grond net buite Northam met ongeveer 75 inwoners, sal voortaan as Helen Park bekend staan.

NORTHAM – Ongeveer vyf en sewentig inwoners van ‘n informele nedersetting op Munisipale gronde net buite Northam, het vandeesweek ‘n naam vir hul tuiste ontvang.

Dié lappie grond sal voortaan Helen Park heet. Dit nadat die inwoners verwissel het van die ANC party na die DA party, aangesien geen basiese dienste aan hulle voorsien word, soos die ANC voor die verkiesing beloof het nie.

“Die haglike omstandighede waarin die mense moet slaap, kinders grootmaak en ‘n bestaan moet maak, behoort die regerende party te skaam”, het ‘n bekommerde DA-lid gesê.

Om water te bekom moes die inwoners ‘n gat grawe, wat opsigself ‘n gesondheidsrisiko is aangesien rioolwater nou daardeur syfer. Tot dusver het die Munisipaliteit nog nie ‘n poging aangewend om die mense se lot te verlig nie.

‘n Anonieme borg het die borde vir die verheugde inwoners geskenk. Daar word beoog om in die nabye toekoms ‘n watertenk vir dié inwoners op te rig.