Northam Helpende Hand hou eerste vergadering

Northam VLU, Northam Helpende Hand en Fleur de Lis Komitee neem hierdie jaar hande om ‘n verskil in die gemeenskap te maak. Vlnr: Mari Meintjes (Skakelbeampte Northam VLU, Voorsitster Northam Helpende Hand), Rene Laas (Tesouriere Northam Helpende Hand en Fleur de Lis Komitee), Annatjie Dreyer (Voorsitster Fleur de Lis Komitee), Susan Dennet (Addisionele Lid) en Angela Potgieter (Voorsitster Northam VLU, Sekretaresse Fleur de Lis Komitee).

SWARTKLIP – Die Northam Helpende Hand-tak het op Dinsdag 7 Februarie hul eerste vergadering vir 2012 aan huis van Rene Laas gehou.

Marianthie van der Walt, Streeksvoorsitster Limpopostreek, het die vergadering toegespreek en die belangrikheid van fokuspunte beklemtoon. Daar moet veral klem gelê word op opheffing en opleiding van die kinders in die gemeenskap. Tydens die vergadering is die beplande werksaamhede van Helpende Hand vir die komende jaar bespreek. Die ywerige dames beoog om weer soos in die verlede ‘n verskil in hulpbehoewendes se lewens te maak. Van vanjaar af gaan Helpende Hand in samewerking met Northam VLU die jaarlikse Fleur de Lis Vrouedag aanbied. Die datum vir die Vrouedag is bespreek vir 20 Oktober 2012. ‘n Fleur de Lis komitee is gestig, en die reëlings is reeds in volle gang. Borge en donasies vir die Liefdadigheidsprojek word vanuit die gemeenskap gevra om ‘n sukses van die dag te maak.

Northam VLU, Northam Helpende Hand, en die Fleur de Lis Komitee vat saam hande, en beraam groot planne vir 2012. Hul wil uitreik, die gemeenskap dien en ‘n verskil maak. Om betrokke te raak by enige van bogenoemde, skakel of sms Mari Meintjes 0820864915.