Nog ‘n renoster verloor sy horing

ROOIBERG – ‘n Wit renosterbul op ‘n plaas naby Verdrag Opleidingsentrum, is op Maandag 6 Februarie dood in ‘n stroopslagting.

Volgens Lt kol Otto, polisiewoordvoerder het veldwagters op die karkas afgekom. Privaat spoorsnyers, boere en die SAPD was betrokke in ‘n sowat 60 ure soektog, maar kon nog nie daarin slaag om die renosterstropers te vang nie. Drie verskillende spore is opgemerk, maar die vermoede bestaan dat die stropers opgetel is nog voordat die polisie op die toneel was. Die soektog na die renosterstropers duur voort. Enigeen met inligting kan Adjudant KP van Dyk skakel by 078 2510 860.

Die lede wat betrokke was in die daelange soektog met net drie ure se slaap agter die blad word bedank vir hul groot opoffering. Gedurende die soektog moes hulle met min kos en water tevrede wees, maar het onverpoos hul taak probeer verrig. Teen druktyd is niemand nog in hegtenis geneem nie.

In ‘n ander voorval is geweerskote in Marakele Nasionale Park waargeneem, maar geen bloedspoor kon gevind word nie. Die saak duur voort.

 

Deur Estie Taljaard

estie@kwevoel.co.za