Troeteldier bring lewensmaats bymekaar

Oom Flip en Tannie Poppie het op 27 Januarie 2012 hul Goue Bruilof gevier.

Goue Huweliksherdenking vir 2 Goue Oues

NORTHAM – Vyftig goue jare gelede is Oom Flip (83) en tannie Poppie Prinsloo (72), bekende egpaar in die Bosveld, in die huwelik verbind.

Die verhaal van hoe die twee lewensmaats mekaar ontmoet het, word steeds vandag met ‘n vonkel in die oog vertel. Oom Flip se hond, Kaptein, het besluit om die area beter te gaan verken, maar het sy pad byster geraak. Tannie Pop se Pa het die verlore hond na hul plaas, Jakkalsdraai toe geneem waarna Oom Flip van sy buurman verneem het waar Kaptein homself bevind.

‘n Verheugde oom Flip het die pad na Jakkalsdraai geneem om sy geliefde hond te gaan haal, maar toe hy vir Poppie sien was die koeël deur die Kerk en het hy sommer ‘n lewensmaat ook ryker geword.

Hulle is op 27 Januarie 1962 deur Ds Bart Oberholzer in die ou Hervormde Gemeente, Rustenburg, in die eg verbind.

Hulle vestig hulle op die plaas Marino Walk in die Makoppa/Dwaalboom distrik waar hulle met beeste en droë lande boer en verhuis in 1984 na Thabazimbi. Tannie Pop was vanaf 1985 tot 1988 by laerskole betrokke waar sy bekend was as die tannie in die kantoor wat so lekker koeksisters kon bak.

Gedurende hierdie tydperk het oom Flip onder andere die bestuurderspos by BKB in Dwaalboom, Thabazimbi en Northam beklee wat hom in aanraking met die meeste boere in die Thabazimbi en Ellisras distrikte gebring het.

Hulle verhuis na Northam op 17 Desember 1987 en woon al ‘n kwarteeu daar. Tannie Pop is steeds die tannie in die kantoor by Northam Primary terwyl Oom Flip vir jare verbonde aan Vleissentraal was.

Die egpaar het twee kinders, ‘n dogter, Annette wat woonagtig is in Vryheid en ‘n seun Christoffel, beter bekend as Rieme, van Thabazimbi. Hul het vier kleinkinders, Otto en Annika Bousema en Rustoff en Wilmari Prinsloo.

Hul familie, vriende en gemeenskap wens die egpaar geluk met hierdie uitsonderlike mylpaal wat hulle in hul huwelik bereik het.