TARRIE – Haar avonture by TAR se kennels

Ek is al so lank hier in die hok by die ander honde, dit voel asof ek nog nooit op ‘n ander plek gebly het nie.

Wat ek nie kan verstaan van hierdie plek nie, is dat amper al die honde met wie ek maats gemaak het, weg is. Kleintjie, die baba-hondjie wat ek in die straat gekry het die aand toe Ounooi weg is, is sommer die volgende dag al weggevat deur ander mense.  So is baie van die honde deur ander mense kom wegvat, maar daar was sommer gou weer een of twee honde in die hokke wat oopgegaan het.

Partykeer kom ‘n snaakse kar, wat amper soos Ounooi se wa lyk waarin hulle haar weggeneem het, maar net sonder die ligte.  Dan vat hulle sommer so drie of meer honde saam.  Wat vir my snaaks is, is die een vrou (eintlik almal wat vir ons sorg!) se verskillende maniere waarop hulle optree.  As mense in ‘n kar ‘n hond wegvat, is hulle bly en opgewonde. Dan speel hulle weer met ons en laat ons voel dat ons ook belangrik is. Die wa wat kom, is ‘n heel ander storie. Dan staan almal rond; party van die mense huil. Elke hond wat hulle inlaai in die wa, hou hulle eers styf vas. Die res van die dag is hulle almal stil en treurig. Niemand wil met ons speel nie. Hulle wil ons net sit en vryf en partykeer druk hulle dié van ons wat die langste hier is, so styf vas dat ons spartel om los te kom. ‘n Hond hou mos nie daarvan om so styf vasgedruk te word nie.

‘n Paar dae gelede,  het daar nog ‘n snaakse ding gebeur:  die wa het weer gekom, en die een vrou het my uitgehaal. Die ander vrou, wat elke dag na ons toe kom, huil toe en sê: “Nee, nie ons moedertjie nie. Tarrie moet bly as ons hondjie!”  Snaaks!  Ek is mos hulle almal se hondjie. Wel, ek het vreeslik van die nekbandjie gehou wat hulle vir my aangesit het.

Gister het daar ‘n lelike ding gebeur, wat my hart baie seer gemaak het. Dit was al nadat al die mense weg is, dat daar weer ‘n kar aankom. Ons blaf toe almal opgewonde, want dalk is dit weer iemand wat met wil kom speel. Ai, tog! Julle sal nie die treurige ding glo wat toe gebeur nie…

Uit die kar klim ‘n man en ‘n vrou. Hulle staan toe by die hek en roep. Hulle het seker gedink ons mense is nog daar. Nadat hulle ‘n ruk lank geroep het, het hulle seker agtergekom dat daar niemand is nie.  Wat hulle toe gedoen het, sal ek nooit vergeet nie! Hulle vat ‘n klein ou hondjie en gooi hom oor hierdie hoë heining, dat hy so “DOEF” aan die anderkant val. Sonder om eers weer om te kyk, klim hulle in hulle kar en ry weg. En daar lê die arme hondjie. Hy het sulke fyn tjankgeluidjies gemaak, maar hy kon nie opstaan nie. Ons kon hom natuurlik nie help nie – nie eers toe dit begin te reën nie. Hy het die hele nag koud, nat en seer daar gelê. Die volgende oggend het ons mense hom daar opgetel. Hy kon amper nie eers meer tjank nie. Van ons mense het gehuil; ander het geraas.  Die een vrou het hom toe weggevat. Met die terugkom het sy net haar kop hartseer geskud en gesê: “Hulle kon hom nie help nie.”  Wat ‘n hartseer dag.  Hoe kan mense sulke dinge aan ons doen? Dalk verstaan ek dit nie, omdat ek nie ‘n mens is nie.

Kontak Tania by TAR indien u as vrywilliger by TAR wil aansluit of indien u ‘n troeteldiertjie wil aanneem, 084 885 6487.