Slang teengif se werking

Na Mikayla se geval het baie boere in die omgewing navrae gerig rakende slang teengif en die moontlikheid om dit op plase aan te hou.

Noordelike Nuus het reptiel- en slangkenner Arno Naudé genader vir raad. Naude is nie net voorsitter van die Transvaal Herpetologiese Vereniging nie, maar ook ‘n dosent by die Universiteit van Pretoria se mediese afdeling.

“Die enigste slang met sy eie teengif is die uiters giftige boomslang. Adders, kobra’s en mambas deel dieselfde teengif,” verduidelik hy. “Hierdie teengif word in ampules van 10ml elk uitgereik, teen ‘n gemiddelde koste van R750 per ampule, en ‘n tipiese slangbyt van ‘n giftige slang soos die Mozambiekse spoegkobra of ‘n mamba vereis ten minste 80ml – 100ml teengif.”

“Volgens die hospitaalverslag het Mikayla sowat 20ml slang teengif ontvang,” sê hy. “En daarin lê juis die probleem… Teengif word toegedien om die hoeveelheid slanggif teen te werk en word nie op gewig uitgewerk nie – dus moes Mikayla, en enige ander slangbytslagoffer, ten minste 80ml, slangteengif ontvang het – ek glo indien hulle haar in Ellisras onmiddellik die regte hoeveelheid teengif toegedien het sou sy binne ‘n week weer terug in die sandput gewees het.”

Noordelike Nuus het Ellisras Hospitaal se hoof uitvoerende beampte Kholofelo Moabelo genader rakende Mikayla se behandeling. “Ons dokters word gereeld opgelei deur ‘n plaaslike kenner op die gebied van slangbyte en gif en ons het altyd genoeg slangteengif beskikbaar vir gevalle soos hierdie.”

“Ek kan nie bevestig dat Mikayla slegs 20ml teengif ontvang het nie, aangesien ek nie ‘n dokter is nie, maar dit is moontlik dat die dokter die kind se gewig in ag geneem het toe hy die teengif toegedien het.”

Naude se raad aan boere is dat hulle klein groepies van  10 vorm en elkeen R750 bydra tot ‘n ampule – die ampules word dan by ‘n spesifieke plaas gehou. “Indien iemand gepik word en dit is ‘n noodgeval is daar dan teengif beskikbaar en kan deur die slagoffer vervang word wanneer hy gesond is.”

Teengif kan nie net mense lewens red nie, maar ook diere soos beeste, honde en perde s’n!

Naude raai egter nie aan dat die teengif self toegedien word nie – na ‘n slangbyt is daar genoeg tyd, selfs in die geval van ‘n mamba byt, om by ‘n hospitaal uit te kom en dan met die hulp van ‘n dokter die teengif toe te dien. “Die rede hiervoor is omdat daar ‘n 10% kans is dat die slagoffer allergies vir die teengif kan wees en dan in ‘n anafilaktiese skok  kan ingaan wat sy dood kan veroorsaak – dokters word opgelei en weet hoe om sulke situasies te hanteer.”

Die belangrikste is om rustig te wees.

Dink weer… roep die kenners in

Die Mozambiekse spoegkobra eet enigiets wat in sy mond sal inpas, sê slangkenner Arno Naudé, daarom is dit nie snaaks vir hulle om insekte of muise tot in huise in te volg nie. Anders as die gewone wipneuskobra is hy nie sku nie en kan homself verdedig deur te spoeg en te pik.

Aangesien dit nou paartyd is en die slange baie aktief is, is dit belangrik om eerder ‘n kenner te bel om ‘n slang te verwyder as om een self te probeer vang of doodmaak. Hierdie kenners is opgelei in slanghantering, het spesiale toerusting en besit gewoonlik ‘n spesiale permit om slange te kan hanteer en te vervoer. Giftige slange word na Johannesburg gestuur vir die vervaardiging van teengif wat lewens red en nie-giftige slange word gewoonlik by reservate vrygelaat.

“Wyfie slange soos ‘n spoegkobra skei feromone af en indien sy aangeval word – soos wanneer hulle doodgeslaan word – skei hulle meer feromone af wat mannetjies in die gebied nader kan lok,” sê Naudé. “Dus as jy regtig nie anders kan nie en ‘n slangvanger is nie naby nie (hulle is gewoonlik bereid om ver uit te ry om jou te help) maak die slang so vinnig as moontlik dood en gooi hom so  1km van jou huis af in die veld sodat die natuur sy gang kan gaan.”