Die netheid van ons dorp

Netheid en stiptelikheid was nog altyd bo aan die prioriteitslys van die ouer garde.  ‘n Ma se plek was altyd aan die stuur van haar huishouding- met of sonder ‘n huishulp, sou sy sorg dat alles ordelik bestuur word in en om die huis.  Haar hoofdoel was die opvoedingstaak van die kinders.  Tye het egter dramaties verander.  Ma’s is tans meer beroeps-georïenteerd.  Soms nie uit eie keuse nie, maar omdat alles eenvoudig net te duur geword het om met een persoon alleen se salaris die pot aan die kook te hou.

Meeste van die ‘bevoorregtes’ het opgeroei in stede en dorpe met teerpaaie, baksteenhuise en spoeltoilette.  Van kleintyd word daar gearbei aan netheid en pligsbesef.  Meeste van ons ‘agtergeblewenes’, het in “townships” of “villages” hul eerste lewenslig aanskou.  In meeste gevalle was Ma en pa altwee verplig om te werk om sodoende hul daaglikse brood te verdien.  Die kinders dus het opgegroei- hul speelplek stofstrate, plakkershutte en as hul gelukkig was, ‘longdrops’ vir toilette.  Gesag het dus ontbreek.  Niemand om die fondasie in die opvoedingstaak te lê nie.  Die normale- tel op agter jou, moenie rommel strooi nie, praat bietjie sagter, eet ordentlik, ens, ens. Het agterweë gebly.

Na 1994 en ‘n nuwe bedeling, het omstandighede drasties verander.  Werkloosheid is aan die orde van die dag en elke individu is vry om te kom en gaan soos hy wil.  Diegene wat in ‘shacks’ in plakkerskampe bly, is nou nie meer beperk to die agtergebelewens alleen nie, maar die wit verarmdes van die gemeenskap is verplig om hul tentpenne langs hul swartbure in te slaan.  Behalwe vir die armoede, is die situasies, beide wit en swart, dieselfde.

Oor ‘n tydperk van 20-jaar, met die uittog van ons gegradueerdes en gekwalifiseerdes landuit, het kennis en vaardighede verlore geraak op elke vakgebied.  Die ‘Swart bemagtigings-bedeling’ het daarvoor gesorg dat al hoe meer ‘agtergeblewenes’ ‘n groter sny, uit die koek van vooruitgang sny.  Volhoubare strukture met werkende sisteme in plek, is op ‘n goue skinkbord oorhandig aan mense wat nie die nodige kennis en/of opleiding ontvang het om die wa deur die drif te trek nie.  Die wat eers as ‘middelklas’ swart sou deurgaan, het nou uitgestyg tot by die kruin van, in meeste gevalle, oorgeërfde sukses.  Daar word dus geoes waar daar nie gesaai is nie.  Afgesien van al hierdie interne veranderinge sou jy dink, erger as erg kan dit tog nie.  Tog, toestroming uit ons buurlande- want almal dink mos Suid Afrika is die “Kanaän”, die land van melk en heuning, neem ‘n intog uit ons buurstate dag na dag toe.  Ons verarmdes moet nou ook werks- geleenthede met hulle deel.  Saam met die vreemdes in ons midde, word ook hul slegte gewoontes oorgedra- asof hier nie genoeg van ons eie is nie.  Dit is reeds so dat die kultuur van die witman en swartman in ons land, dekades van mekaar verwyder staan en nou nog die vreemdes by, met vreemde invloede.

Dat die wit Suid Afrikaner in die land tans met ‘n ‘raw deal’ opgeskeep sit, is ‘n feit.  ‘n Onberekenbare las is op hul skouers geplaas.  ‘n Las toegespin in ‘n kokon van skuldgevoelens.  Hoe waar klink die woorde:  “tot die derde en vierde geslag”!  Ek los die “van die wat my haat” uit, omdat dit nie van toepassing is op ‘n ‘sogenaamde’ Christenvolk nie.  Dit is net ‘n klip in die bos!  Wat ek eintlik wil sê, is dat of ons nou wil of nie, ons ‘n plig en ‘n verantwoordelikheid het om ‘n helpende hand uit te reik na diegene wat nie die ‘fyner’ kunsies van beskawing ken of verstaan nie- en glo my, hier praat ek nie spesifiek van ons swartmense nie, maar met wittes ook, soos ons uit foto’s in die Kwêvoël gesien het.  Dan weer as mens die skaal wil balanseer, is dit so dat diegene wat gemors aflaai waar dit nie hoort nie, soms uit woede optree.  Hul frustrasies gemik op ‘n ‘demokraties’ verkose stelsel, waarin dienslewering van swak na swakker verval.  Twee swaeltjies maak nie ‘n somer nie en dat mens maar liefs nie kwaad met kwaad moet vergeld nie, is ‘n feit.  Wat nou gemaak?  Moet mens maar toelaat dat Godswater oor Godsakker loop?  Oë toemaak en bid dat alles wat verkeerd is moet verdwyn, of moet elkeen van ons wat reg van verkeerd kan onderskei, inspring en help om situasies wat handuitruk reg te klap?

Bogenoemde was nou een elle lange relaas net om ‘n agtergrond te skets vir dit wat ek eintlik wil sê en te onderstreep in die gedagtes van elkeen wat hierdie berig lees.  Ek wil aandag vestig op ons innoverende ‘swart’ entrepeneurs en straatsmouse.  Die witman sal ewe getrou aan die wet, ten duurste vir ‘n kantoor-spasie betaal vanwaar hy sy besigheid kan bedryf.  Die swartman wat dalk nie die geld daavoor het nie, sal in pa’ce, in vrede, besigheid vanaf die sypaadjies, of vanaf enige onbeboude spasie beskikbaar, doen.  Hul ware word, getrou aan Afrika tradisie, op die sypaadjies uitgestal.

‘n Lekker uithangplek vir middagete is ‘n braai agter SafeRite, met pap en sous!  Jy moet net jou eie vleis voorsien en ek neem aan die pap en sous word verkoop.  Die ‘oop’ terrein leen hom ideaal daartoe.  Agter die Medicumgebou, is ‘n lekker ‘opelug’ haarkappery- net so neffens die braai area.  Hare word gesny en verlengstukke ingevleg.  As die windjie op ‘n dag bietjie geselserig is, word afgesnyde hare en stukkies verlengstukke opgeswiep en waai oral teen heinings en plante vas.  Iemand het inisiatief aan die dag gelê en groot leë kartonhouers op strategiese plekke gesit met die uitsluitlike doel dat diegene wat daar op die mure sit en eet en drink, hul leë houers daarin sal gooi.  Dit is tog nie teveel gevra of verwag nie?  Mens het mos darem nie ‘n Meestersgraad nodig om dit uit te werk nie?  Tog is dit wel ‘n onmoontlike taak.

Dan die pallasade agter die ‘betalende’ huurders se kantore waar die haarkappery elke dag besigheid doen, word vir die hang van sakke, truie en baadjies gebruik.  Dan is daar die skreeuende kleingoed wat wag dat mamma se hare klaar gevleg word.  Dalk is hierdie manier van besigheid doen toelaatbaar, ek weet nie!  Ek wonder net, sou ek dieselfde doen, wat sal ons ‘wit’ huurders daarvan dink?  Sou hulle dit so aanvaar?  Hulle ontvang tog elke dag kliënte in hul kantore?  Is die lawaai buite nie lastig of steurend nie?

Alhoewel ek geen probleem het met die innoverende denke van sekere groepe om geld te verdien nie, het ek wel ‘n probleem met die gemors wat agtergelaat word.  Die persoon wat so gaaf is om die vure te verskaf aan die braaiers, plaas 2 x dromme daar vir die doel van bakkies, koeldrank en bierbottels, maar ek wonder of dit ooit raakgesien word.  Is dit nie dalk wys om in ‘n swarttaal duidelik en groot sodat die ‘klïente’ dit kan lees:  “GOOI ASSEBLIEF ALLE AFVAL HIERIN” te plaas nie- of sou dit ook futiel wees?  Dink u dit sal werk?  Dalk moet hy sommer tafeltjies en stoele uitsit dan is dit nie nodig dat sy klïente die stoepmuurtjies om ander se besighede volsit en hul afval daar neergooi nie.  Dit moet dan ook sy plig wees om te sorg dat alle ‘afval’ wat daar gelaat word deur die eters, opgetel en weggegooi word, want dit skep nie net ‘n swak beeld nie, maar is ook onhigiënies.

Soos ek sê, ek het geensins ‘n probleem met die manier waarop daar handel gedryf word nie- dit is eintlik prysenswaardig dat hul so probeer om hul inkomste aan te vul.  Dit is egter die ‘gemors’ wat agtergelaat word wat vir my ‘n doring in die vlees is.  Kan mens nie op een of ander manier die burgers van ons dorp so opvoed, dat rommelstrooi taboe is nie?

Ek herinner my die tyd toe ons ‘straatveërs’ gehad het.  Ek is seker daar is baie betroubare- wit en swart, mense wat tog te bly sal wees om net ‘n inkomste te verdien.  Dit is nie ‘n skande om skoon te maak nie, maar wel ‘n skande om te staan en bedel.  Doen ‘n eerbare werk, al is dit dan net om ons paaie en sypaadjies skoon te hou.  Rommel word op enige oop ruimte ‘gedump’ waar dit dae lank lê en vlieë vergader.  Waarom is alles so in trurat?  Waarom kan die instansies in beheer nie vinniger optree en vinniger opruim nie.  Manne tekort?  Daar is honderde wat werkloos is, neem hul in diens en so bekamp ons sommer ook werkloosheid en armoede.  Is die fondse uitgeput?  Stel mense in diens wat weet hoe om met begrotings te werk en mense in bestuursposte wat diegene kan oplei wat nie die nodige kwalifikasies het om so ‘n enorme taak te volvoer nie.

Mevrou die Burgermeester- winkeleienaars en entrepreneurs- deur trots te wees op wat jul bestuur en besit, wees ‘n voorbeeld en plaas asseblief meer dromme of houers voor jul besighede of naby jul besighede, sodat die dosyne voete wat elke dag ons paaie bewandel, asseblief ons dorp kan begin skoonhou.  Sluit net jou drom of houer aan ‘n ingeplante paal vas- anders kry hy dalk voete!  Dan mevrou die Burgermeester, gee opdrag aan die departement verantwoordelik vir die instandhouding van paaie om bietjie spoed in hul take in te werk.  As hul nie wil werk nie, dank hul af en probeer ‘n volgende groep werkers.  Hul sal gou besef dit is of reg of weg.  Jy doen waarvoor jy betaal word, of jy is uit!  Ek het mos al gesien hoe luilekker die werkers op die gras uitspan, terwyl hul in diens is.  Hoe, wanneer die stootskraper besig is, die wat veronderstel is om die groot klippe uit te haal, lui lekker kuier langs die pad.

Hierdie skrywe is nie net gemik op ons inwoners nie, maar veral op die stadsraad en sy personeel, die Burgermeester inkluis.

Bekommerde Thabazimbiër