Boere Rumoer is sterk op dreef

DJ Ossewa is vanjaar die vermaaklikheidskunstenaars tydens die Hervormde gemeente Ebenhaeser se Boere Rumoer op Lephalale.

LEPHALALE – Die Boere Rumoer, wat jaarliks deur die Hervormde gemeente Ebenhaeser aangebied word, vind weer op Saterdag 31 Maart 2012 plaas.

Die dag beloof om vermaak en pret en plesier in te hou vir almal wat daar gaan wees. Van vroegdag af gaan daar ‘n boere orkes optree en lateraan selfs die bekende groep DJ Ossewa. Die beste van alles is dat die publiek totaal en al gratis na die vermaak kan kom kyk.

Vir die wat nie na die musiek wil luister nie, maar meer aktief besig wil wees gaan daar ook items aangebied word soos “Fear Factor” en selfs ‘n varkvang kompetisie. Ou bekende items soos skyfskiet sal ook aangebied word. Die wenners van die kompetisies sal uiteraard ‘n prys ontvang vir die prestasie.

Daar word ook beoog om die kinders besig te hou met springkastele, ponieritte en ander aktiwiteite.

Tydens die geleentheid sal daar ook kwaliteit rou vleis te koop aangebied word teen uitkloppryse. Die beeste is al ‘n geruime tyd in die voerkraal en hul word vetgemaak om te sorg dat die beste kwaliteit vleis gelewer kan word.

As jy hou van eet sal jy nie teleurgesteld terugkeer na jy die Boere Rumoer bygewoon het nie. Verskeie lekkernye gaan voorberei word om aan te kom smul. Een van die interessante disse wat aangebied gaan word is skaapstertjies en pap. Die skaapstertjies word spesiaal uit die Karoo bestel om te sorg dat net die beste skaapstertjies voorgesit kan word.

Tydens die dag vind daar ‘n veiling plaas en daarmee saam die trekking van die pryswenner van die kompetisie wat aangebied word. Die eerstepryswenner wen ‘n ruim jagpakket bestaande uit twee koedoes, twee rooibokooie, twee blouwildebeeste en twee vlakvarke en ‘n seevakansie by Ramsgate.

Die wenner van die tweede prys wen ‘n vakansie in Mosambiek by die bekende Paindane strandoord en ‘n slagos.

Die derde prys bestaan ook uit ‘n jagpakket bestaande uit een koedoe, twee rooibokke en twee vlakvarke. Selfs die vierde prys kan na uitgesien word, want dit is ‘n selfsorgwegbreek vir twee persone vir twee nagte by Bateleur Safari Lodge.

En om alles mooi af te rond is daar selfs ‘n vyfde prys wat bestaan uit 5 kg wors, 5 kg maalvleis en 2 kg biltong. Teen vandag se vleispryse is selfs die prys nie te versmaai nie.

Maak seker dat alles in plek is, sodat jy by die Boere Rumoer kan uitkom wat gaan plaasvind op 31 Maart by die Hervormde Kerk Ebenhaeser. Kontak Johan van Vuuren of ds Leslie Kern by 014 763 2703 vir meer inligting.