Thaba Roadhogs het groot hart

THABAZIMBI – Roadhogs Thabazimbi het die afgelope twee maande speelgoed vir die Limpopo “Toy Run” by verskeie versamelpunte in Thaba ingesamel. Hulle het op Sondag 27 November ‘n bakkievrag vol speelgoed na die Carousel vervoer waar dit aan minderbevoorregte kinders uitgedeel is.

Daar was ongeveer 9000 motorfietse waarvan 12 motorfietsryers van Thaba was.

Frik Erasmus van Thabazimbi Roadhogs bedank graag die motorfietsryers van dié klub vir die werk wat hulle in hierdie projek ingesit het. ‘n Spesiale dank aan Irene Kok vir haar werk en dat sy haar bakkie beskikbaar gestel het om die speelgoed te vervoer asook AJ Richards wat haar gehelp het.

Volgens Frik kan die publiek met hierdie projek sien wat motorfietsryers vir liefdadigheid doen. “Dalk is jy eendag van ‘n motorfietsryer afhanklik om te oorleef.” Sê Frik. “Moet asseblief nie die mense wat motorfiets ry altyd klassifiseer as gemors nie. Respekteer hulle ook op die pad. Hulle fietse veroorsaak nie verkeersknope nie, hulle trap nie slaggate in die pad nie en daardie fiets kos moontlik meer as jou motor.” Sê Frik met ‘n glimlag.