Laerskool Thabazimbi ontvang leerlinge met ope arms

THABAZIMBI – Daar het groot opgewondenheid geheers by Laerskool Thabazimbi toe die 120 Graad R-leerlinge hul eerste tree by die skool op Woensdag 18 Januarie gegee het. In die volgende 13 jaar sal daar nog baie voetspore deur hulle getrap word.  Hulle is met groot liefde deur die vier Gr R-onderwyseresse ontvang en sodoende die nuwe ervaring vir elke kind aangenaam gemaak.

Die 134 Graad 1-leerlinge het ook met groot verwagting na die ‘groot skool’ gekom en sommer dadelik aan die werk gespring.  Mamma se kosblik was vir almal ‘n hoogtepunt gedurende eerste pouse.

Die groot dag het ook uiteindelik vir die Graad 7-leerlinge aangebreek om nou die seniors van die skool te wees.  Die Leerderraad spog ook met nuwe kleredrag waarop die leerlinge baie trots is.

Die Hoof, mnr Koos Venter, wens elke leerling, ouer en onderwyser verbonde aan Laerskool Thabazimbi ‘n geseënde 2012 toe.  Mag elke geleentheid wat die jaar vir die leerlinge gebied word, entoesiasties aangepak en suksesvol afgehandel word.

“By Laerskool Thabazimbi strewe ons daarna om elke kind volgens sy of haar vermoëns en talente te ontwikkel en op te voed.  Dit geskied slegs deur toegewyde onderwysers en die genade van ons Hemelse Vader.” Sê Mnr Venter.