Ben Steenekamp se plekkie nou leeg

Wyle Ben Steenekamp 1930/07/08-2012/01/08.

THABAZIMBI – “Dit het die Here van hemel en aarde behaag om Ben Steenekamp op 8 Januarie 2012 in die ouderdom van 81 jaar uit ons midde weg te neem. Sy Geloof, wysheid, kalmte, en verdraagsaamheid het ons almal se lewens verryk. Ons dank die Here vir sy voorbeeldige lewe en ons gun hom die welverdiende rus in die Here se ewige woning.” So het Barenda van der Merwe, oom Ben se dogter, vroeër die week aan Kwêvoël per e-pos geskryf.

Hulle bedank graag almal vir elke oproep, besoek, sms, e-pos, woorde van bemoediging, ondersteuning, stywe drukkies en gebede. Almal se harde werk om “Pa Ben” se laaste afskeid spesiaal en eervol te maak word ook opreg waardeer. Ook elke bos blomme, koppie koffie, broodjie en bederfies asook die aanbiedinge van hulp, en waar hande genoeg was het net die gedagte die familie verder getroos.

“My Pa se plek is vir altyd leeg, en ons mis hom. Ons vind troos by ons Hemelse Vader en in troue hande van familie en vriende.” Skryf Barenda. Sy vrou, Hettie word ook bedank vir die vier jaar wat sy na hom omgesien en versorg het.

Sy heengaan word diep betreur deur sy eggenote, familie en vriende.