Allerlei diertjies by 1ste Troeteldierskou

Afdeling Toertjies: Eersteplek – Tinkerbell - Eienaar Jessica Swemmer.

THABAZIMBI – Die eerste Troeteldierskou het op Saterdag 26 November by Thabazimbi Skougronde plaasgevind.

Talle diereliefhebbers het kom pronk met hul mooistes… en lelikstes en die inskrywings was oorweldigend.

Die kategorieë waarin die diere kon deelneem was: Grootste, Kleinste, Lelikste, Mooiste, Kostuum, Toertjies, Look-A-Like, Gehoorsaamste, Mees ongewone en Korste stert.

Ds Albert Boshoff van die AP Kerk het die dag met skriflesing en gebed geopen.

Daarna het die inskrywings plaasgevind wat gevolg was deur ‘n hondevertoning van die K9 afdeling van Ikatiseng Sekuriteits Maatskappy. Die honde is baie goed opgelei om dwelms, dagga uit te soek, asook om boosdoeners uit te snuffel. In geval van skietery en rooftogte word dié ongelooflike diere ingespan om diewe of voortvlugtiges te gaan uithaal uit wegkruipplekke waar mense nie kan ingaan nie. Die diere is opgelei om selfs in die mees gevaarlikste gevalle die boewe te ontwapen. Daar is met demonstrasies aan die omstanders verduidelik en gewys presies waartoe die honde in staat is. Daar is ook mense uit die gehoor wat probeer het om die diere se leibande vas te hou ingeval van ‘n “Rip” en selfs mense wat hulleself voorgedoen het as ‘n skelm wat deur die honde platgetrek kon word.

Daarna het die pragtige loslating van duiwe van David Birch plaasgevind, en die toeskouers verwonderd staar na die ongelooflike sterk vlug waar dier en vlerk bymekaar kom.

Die belangstelling was groot en die skou het direk daarna gevolg terwyl dit nog vroeg en koel is, onder die afdakke, sodat die diere nie enige ongemak van enige aard het nie, daar is ook gesorg dat die diere kos en water in hulle hokke en bakke het, soos die reëls van die DBV voorgelê is.

Daar was in elke kategorie baie pryse vir die eerste drie plekke, en is weereens bewys van die besighede wat geborg het se openhartigheid teenoor diere.

Volgens die organiseerders was die skou ‘n ongelooflike sukses en bedank hulle namens die AP Kerk Thabazimbi, graag die volgende persone vir hul onbaatsugtige bydraes en harde werk om die skou ‘n sukses van te maak: Al die deelnemers vir hul insette, Thaba SuperSpar, Shoprite, Pick ‘n Pay, Amper Mahala, Medhof Apteek, Block Busters, Vliegpoort Drankwinkel, Die Suiwelspens, Peacock Staalwerke, Obaro, Pampered Pooches, ook spesiaal aan die Suikerbekkies vir die skenking van die springkasteel, Ikatiseng vir die Hondeskou en Kwêvoël vir die plasing van die berigte. Foto’s: Annabelle Tromp.