Spog met jou geliefde troeteldier-vriend

THABAZIMBI – Die eerste Troeteldier Skou in sy soort vind plaas volgende Saterdag 26 November te Thabazimbi Skougronde.

Soos by die jaarlikse Landbou en Nywerheidskou, het hierdie skou ten doel om diereliefhebbers die kans te bied om bietjie te brêg met hul geliefde troeteldiere. Of die troeteldier nou vier bene, twee bene, agt bene, voelers, skubbe of geen bene het nie, almal is welkom, van ‘n Aap tot ‘n Zebra…

Die organiseerders doen ‘n beroep op die troeteldier eienaars om te verseker dat hul troeteldiertjie genoegsame water en kossies vir die dag se verrigtinge sal hê. Diere moet in hokke of bakke wees en honde moet aan leibande wees. Diere kan daar verkoop word mits 20% van die verkope aan die AP kerk geskenk word.

Inskrywings vind plaas op die perseel vanaf 07:00. Inskrywingsvorms is beskikbaar by Elna Erasmus of stuur ‘n e-pos na estie@kwevoel.co.za vir ‘n elektroniese inskrywingsvorm. Die beoordeling vind deur die loop van die oggend plaas en die prysuitdeling is om 12:00.

Daar is verskeie pryse vir verskillende kategorieë. Inskrywings per dier beloop R20 en skougangers betaal R5 per persoon by die hek.

Die hondevertoning, wat deur Jaco van Vuuren van Ikatiseng Security aangebied word, vind plaas vanaf 09:30. Vir die hongeres en dorses sal daar ook iets te ete verkoop word soos worsbroodjies, pannekoek, koeldrank, roomys en gemmerbier.

‘n Spesiale toevoeging vir die dag is die tekenkompetisie, spesifiek vir die jongspan wat nie instaat is om hul troeteldiere op die skou te vertoon nie. Daar is pryse vir verskillende ouderdomskategorieë.

Kontak Elna Erasmus by 082 872 9471 of Chris Barkhuizen by 083 225 4709 of Kotie by die AP Kerkkantoor by 014 777 1689.