Splitpin word gebore

Dit is erg winderig in die Kaap. En nat! Die Kaapse dokter ruk en pluk aan alles wat plukbaar is. Dis winter. Dis koud! Die paaie lê uitgestrek soos blink erdwurms oor die aarde, nat en glad.

Skuins gedruk deur die wind, ploeter ‘n Vespa “scooter” teen ‘n bult uit. Elke dan en wan dreig die Suidooster om die “scooter” neer te slinger. Dit van die pad af te skrum.

Maar dit stotter voort. Hospitaal toe!

Vroeg vanmôre al het Sêra haar man wakker gemaak: “Ek het seer! Ek dink dis tyd!”

Weelde van ‘n kar was daar nie. Net die Vespa wat die enigste vervoer vir die hele gesin was en nadat Gawie uiteindelik die “scooter” uit rigor mortis geskop het, was dit al laat en was die kontraksies op mekaar.

Met haar pens in die pad, kon Sêra nie gewoonweg agter Gawie op die Vespa klim nie, en moes sy noodgedwonge agterstevoor sit agterop. Die spaarwiel moes hy afhaal, want dit was in die pad van haar bene, en met geen plek om aan vas te hou nie, het sy drie keer afgeval na elke wegtrek. Daar moes ‘n plan gemaak word!

Met rugge teen mekaar, het Gawie maar ‘n ou baaisikel taaier oor beide se koppe getrek tot onder die arms. Sodoende was Sêra aan sy rug vas soos ‘n siamese tweeling. En vort is hulle! Die reën in!

By die ongevalle het Gawie die Vespa sommer so teen die heining laat lê.

Die taaier kon hy nie afkry nie. En so abba-abba is hulle die Hospitaal in. Skuins-skuins soos twee krappe wat verstrengel geraak het. Haar water het lankal gebreek, maar gelukkig kom niemand dit agter nie vanweë die reën.

Met die taaier wat druk waar haar borste vroeër jare gesit het, en die geskud-skud in die gang af, begin die kleintjie kop wys en moes Gawie maar saam met sy vrou op die bed lê en kraam. Daar was nie tyd om die taaier af te sukkel nie. Eers nadat die bybie die dakke af geskree het, kon die dokters aandag gee aan die taaier.

Toe Gawie die laaitie sien, merk hy verbaas op dat die kleintjie maar maer is: “Met sy lang dun beentjies lyk hy nes ‘n Splitpin!”

Splitpin is gebore en jare later sou hy spot dat hy nog kan onthou hoe die dokter sy ma geklap het omdat hy so lelik was. Ja, hy kan sy geboorte goed onthou! Dit was toevallig op sy verjaarsdag! Hoe kan hy dit vergeet!

– Thabazimbi Roadhogs