Misdaad in Thaba

THABAZIMBI – Die gemeenskap is die afgelope week deur misdadigers – wat by huise en voertuie ingebreek het – geteiken.

Mnr Jaco “Pottie” Potgieter, bestuurder by Ikatiseng Sekuriteit, het die tendens bevestig en gesê dat hulle reaksielede gereed is vir die feesseisoen.

Dit wil voorkom dat daar tans heelwat inbrake is by mense wat geen alarmsisteme het nie, of by niemand gekoppel is nie. Met die feesseisoen op hande word die publiek aangeraai om alarmsisteme te laat installeer, of te laat koppel sodat die misdaad op hierdie manier bekamp kan word.

Vier huisinbrake en heelwat diefstal uit voertuie in parkeerterreine, is ondervind. Misdadigers teiken dames en duur voertuie. Hulle gebruik steeds die afstandbeheer-metode om by ‘n voertuig in te breek. Wanneer ‘n voertuig eienaar sy voertuig met die afstandbeheer sluit, druk die misdadiger die knoppie van sy eie afstandbeheer, wat die sein op hierdie metode onderskep sodat die voertuig nie sluit nie.

Volgens ‘n inwoner van Vierdelaan, wat op Maandag weer deurgeloop het onder huisbraak, is dit die derde keer wat diewe in haar huis inbreek. “Om mens se goed te verloor, veral drie keer, is om naar te word vir ons land.” Sê sy. Die misdadigers breek die diefwering en steel slegs kosbare items. Ook haar bure is sowat twee maande gelede deur inbrekers geteiken.

Kontak die Speurtak in Vanderbijlstraat by 014 777 4820/21/40 om enige tipe misdaad te rapporteer.