Meisie eien haar verkragter

THABAZIMBI – ‘n Dapper 16-jarige meisie het ure ná haar wrede aanranding en verkragting, teruggekeer na die misdaadtoneel om die verkragter op te spoor.

Die traumatiese aanranding, verkragting en roof het op Donderdagoggend, 10 November om 08:00 by die parkie in Judithstraat gebeur terwyl die leerling oppad skool toe was om ‘n twee-uur lange vraestel te skryf.

Volgens huisvriende, was sy Woensdagaand in die hospitaal en is Donderdagoggend ontslaan om haar eksamen te gaan skryf. By die parkie het sy op die sypaadjie gerus nadat sy begin sleg voel het. ‘n Man het haar genader en gevra of sy hulp nodig het. Sy het ongemaklik geraak en opgestaan om verder te loop waarna hy haar aangerand het, die bosse ingesleep, verkrag en beroof het.

Nadat hy op die vlug geslaan het, het sy vriende geskakel om haar te gaan haal. Hulle het die polisie ontbied en haar hospitaal toe geneem. Nadat sy behandeling ontvang het, het sy teruggekeer na die misdaadtoneel waar sy haar verkragter uitgeken het terwyl hy by sy plastiekhuis in die bosse gesit het.

Die verdagte is gearresteer en tans in aanhouding.

Haar familie en vriende bedank Konstabel Mabena wat die saak hanteer het, vir haar flinke diens.