En toe sneeu dit meel…

Hoewel die temperatuur op Bela-Bela Vrydagoggend, 11 November, vroeg reeds op 30°C gestaan het, het dit by Brenner-meule gelyk asof dit gesneeu het.

In nog ’n voorval in die reeks rooftogte wat vir Bela-Bela-inwoners die afgelope twee maande nagmerries gee, is sowat R100 000 se skade aangerig toe ’n bende gewapende rowers  vroeg Vrydagoggend, 11 November, by Brenner-meule toegeslaan het.

Toe Die Pos die meule in Paul Sauerstraat besoek het, het dit gelyk asof sneeu oornag in die omgewing geval het. Alles was spierwit. Die temperatuur op die dorp het egter vroegoggend reeds op 30°C gestaan.

Me. Sarah Barnard, bestuurder van Brenner-meule, het verduidelik hoekom dit lyk asof dit gesneeu het: “Die twee meulenaars is deur die rowers vasgebind en toegesluit. Hulle was magteloos en kon toe nie die meule stop toe ’n lugborrel tydens die rooftog in die meule gevorm het nie. Meel het oral begin uitspuit en het ook bo by die dak uitgeblaas. Die hele perseel is toe in ’n spierwit meel-kleed bedek.”

Volgens Barnard het die bende booswigte Vrydagoggend net ná eenuur die palissade-heining oopgebuig en só toegang tot die perseel verkry.

“Die rowers het beslis geweet wat hulle doen. Hulle het heel eerste die alarms uitgeruk, toe die kantoor se venster oopgebreek en ingeklim,” het sy gesê.

Die twee meulenaars wat deur die nag werk, mnre. Daniel Tshihangwa en Johannes Simenya, en ’n skoonmaker, mnr. Godfrey Hlangwane is deur die bende oorrompel, met vuurwapens gedreig, vasgebind en in ’n stoorkamer toegesluit.

“Ons moet meulenaars 24 uur aan diens hê. As daar ’n blokkasie in die meule is, móét die meule onmiddellik afgeskakel word en die blokkasie skoongemaak word. As dit nie gebeur nie, blaas die meule die meel bo uit en dan lyk dit asof dit gesneeu het. Dit kan ook groot skade aan die meule veroorsaak as die blokkasie nie vinnig verwyder word nie,” het Barnard gesê.

’n Polisieman wat omstreeks vieruur die oggend die omgewing gepatrolleer het, het gedink die meule is aan die brand toe hy die wit meelwolk bokant die meule se dak sien. Dit het vir hom soos rook gelyk. Hy het op en af gery en toe hy geen reaksie kon kry nie, het hy die polisievoertuig se blou ligte en sirenes aangesit.

Vermoedelik het dit die rowers, wat toe al langer as drie uur besig was om die kluis te probeer oopbreek, op vlug laat slaan.

Die enigste buit waarmee die booswigte weggekom het, was ’n rekenaar.

Barnard het gesê die voorlopige raming van die skade is sowat R100 000. Benewens die verlies wat die meule gely het as gevolg van meel wat uitgeblaas is, het die rowers ook skade aangerig toe hulle ingebreek en die kluis probeer oopbreek het.

Die polisie het ’n groot soektog begin na die bende. Teen druktyd dié week was niemand nog in hegtenis geneem in verband met die voorval nie. — LiN Nuus/Die Pos