“Elvis” goed ontvang

THABAZIMBI – KunsteGrotgangers het Saterdagaand beslis nie onaangeraak na die verhoogstuk “My pa dink hy’s Elvis” by die teater uitgestap nie.

Nieteenstaande die hittegolf wat Thabazimbi die afgelope naweek beleef het, was die teater stampvol bespreek. Die sweet het behoorlik by die akteurs afgetap met al die ligte wat ook boonop na die verhoog gerig was. Die stuk was in elk geval so intens dat niemand eers deur die hitte gepla was nie.

Ben Kruger as Elvis en Viljé Maritz as sy seun Hennie, was onoortreflik in hierdie hoogs vermaaklike stuk wat jou laat lag het met ‘n traan. Die pa-seun verhouding van mekaar nie verstaan nie en om dinge vir ooglopend eie redes te doen, kry diepte met hierdie stuk. Hennie, wat pas sy skoolloopbaan voltooi het, blameer sy pa omdat hy nie aam met sy maats op die strand kan rondkarjakker nie maar sy pa moet vergesel op sy Elvis toer deur die platteland. Boonop is hy nie ‘n Elvis aanhanger nie en verkies eerder vir Frank Sinatra.

Die gehoor is ook slim betrek by die opvoering en het mens met tye nie geweet of jy in die KunsteGrot sit of in die saaltjie daar op Phillipolis, waar hulle ten tye van hul toer was nie.

Viljé, so jonk as wat hy is, vertolk sy rol skitterend. Daarby is hy ‘n baie besige mannetjie op die verhoog en as hy eers die “shakes” kry is jy skoon bang dat hy een van sy ledemate gaan afruk. Van hom gaan ons in die toekoms beslis nog baie sien en uit die reaksie van die gehoor toe hy sy hemp uitpluk, sal manne soos Izak Davel in hul spore moet trap.

Beide akteurs se sangvermoë het die gehoor laat wonder of dit nou werklik Elvis was wat gesing het of nie. Werklike trane het by almal opgewel toe pa Hendrik aan Hennie die brief gewys het waarin dit uitgekom het dat sy ma terminaal siek was. Die eintlike redes vir opofferings het toe na vore getree en het die twee mekaar gevind om hulle verlies te verwerk.

Met verhoogstukke van hierdie standaard is dit beslis die moeite werd om die aanbiedinge by die KunsteGrot te ondersteun.

Op die lys van vertonings vir volgende jaar is kunstenaars soos Navi Redd, Die Grafsteensangers, Chris Chameleon en Nataniël het ook aangedui dat hy weer graag in Thabazimbi sal wil kuier.

Hou Die Kwêvoël dop vir die datums van die volgende aanbiedinge en bespreek vroegtydig om jou sitplek in die teater te verseker.

Na ‘n baie warm tydjie op die verhoog vlnr: Ben Kruger (Elvis), Rita Volschenk van die KunsteGrot en Viljé Maritz (Hennie)