Bohaai oor COP17

9 December 2011

In Durban word bohaai opskop oor COP17 binne en buite die konferensiekamers.

Die wêreldberaad gee aan die groenes kans om te protesteer. Hulle protesteer in elk geval of daar nou meriete aan ‘n saak is of nie en die protesaksie moes te wagte gewees het veral by “Groen Konferensies” wat keer op keer deur ontwikkelende lande gebruik word om hul stem uit te bring teen die ontwikkelde lande wat blykbaar die skuld moet dra vir al hul elendes.

Goed en wel. Mens wil saamstem met die Europese Unie oor die instelling van ‘n koolstofbelasting. Mens is teen die feit gekant dat Amerika en China hierteen gekant is want almal weet dat Amerika se vervaardigingsektor so in duie gestort het dat dit totaal afhanklik is van Chinese uitvoere na Amerika. Net so is China, die wêreld se vinnigste ontwikkelende ekonomie baie van hierdie Amerikaanse mark en Suid-Afrika se steenkool en ystererts afhanklik om hul groei te regverdig.

Die groot saak wat steeds nie aangespreek word nie is oorbevolking. Daar is eenvoudig net te veel mense op hierdie planet wat ons as Aarde ken. Solank ontwikkelende en onderontwikkelende lande se regerings dit nie aanspreek nie, kan daar niks geloofwaardigs uit COP17 kom nie.

Mnr Godfrey Gomwe, ‘n uitvoerende direkteur van Anglo American, gee toe dat die mynbedryf nie genoeg doen ten opsigte van hul impak op die omgewing nie. Indien koolstofbelasting nie aangewend word vir groen tegnologie nie, maar netso in die staatskatkis gaan beland, is hy daarteen.

Sover dit myne aan betref, lê die probleem nie noodwendig by die groot mynmaatskappye, wat in elk geval hul groenstrategie in plek het nie, maar by die talle klein mynmaatskappye wat hul nie veel steur aan omgewingsbeplanning nie asook die ou uitgediende myne waar niemand meer verantwoordelikheid oor wil neem nie asook die feit dat korrektiewe aksie nie geneem is waar myne versuim om rehabilitasie uit te voer nie.

Iets waaroor in Die Kwêvoël reeds verskeie kere berig is, is die feit dat myne grootliks kan bydra om te verseker dat die gemeenskap steeds volwaardig kan voortbestaan indien hulle hul mynbedrywighede in die omgewing staak. Hierby ingesluit is die ontwikkeling van groen gebiede soos Marakele en die onderskeie bewaringsaksies. Deur direk hierby betrokke te raak wys hulle aan die deel van die gemeenskap wat buite hulle organisasies staan dat hulle ook deel van dieselfde gemeenskap is en nie net die ontwikkeling van die totale gemeenskap vanaf die kantlyn dophou nie.

So is daar ‘n groot behoefte aan ‘n nuwe laerskool in Regorogile. Blykbaar eindig die belangstelling by die opgradering van Ysterberg Primary, die oorspronklike skoolgebou wat aan die swart gemeenskap oorgedra is na die totstandkoming van die Thabazimbi skool (huidig Laerskool Thabazimbi). Die terrein verleen hom eenvoudig nie tot verdere uitbreiding nie en steeds sal alles beknop bly. Soos dit is, kan dit eerder net in Ipelegeng se behoeftes voorsien. Huidig loop inwoners van Regorogile se kinders kilometers om ander skole in die omgewing by te woon en word van die kinders ook kilometers met busse aangery om skole by te woon.