Vragmotor verloor vrag op R510

Die vrag koring wat oor die pad gestrooi gelê het nadat ‘n vragmotor Saterdag, in ‘n poging om ‘n ongeluk te vermy, omgeslaan het.

THABAZIMBI – ‘n Vervoertrok wat van Louma Boerdery oppad na Northam se graansilo’s was, het omstreeks 14:15 op Saterdag 5 November op die R510 omgeslaan nadat hy ‘n ongeluk probeer vermy het.

Volgens die vragmotorbestuurder het ‘n motor vanaf Thabang Child and Youth Centre se afdraaipad voor die aankomende vragmotor ingedraai en moes die vragmotorbestuurder uitswaai om ‘n ongeluk te vermy. Die vragmotorbestuurder het beheer verloor oor die trok waarna die vragmotor met sy vrag koring omgeslaan het. ‘n Aankomende Corsa bakkie is rakelings in die proses getref, maar weens die impak het ook die voertuigbestuurder beheer verloor.

Albei bestuurders het ligte beserings opgedoen. Die voertuig wat die ongeluk veroorsaak het, het weggejaag.

Die Amandelbult Fire and Rescue span was binne minute op die toneel en kon die pad afbaken terwyl opruimingswerk gedoen is.