Twee grotes bots

Nooddienspersoneel besig met die reddingsoperasie nadat twee swaarvoertuie in ‘n ongeluk betrokke was. Op die foto is Henk Havenga en Gerrie Visagie.

THABAZIMBI – ‘n Fratsongeluk waarin twee swaarvoertuie beide met abnormale vragte gelaai is, het Donderdag 27 Oktober op die R511 pad ongeveer 12km buite Thabazimbi onderweg vanaf Johannesburg na Lephalale plaasgevind, toe die voorste voertuig skielik moes rem.

Die twee enorme West Logistics vragmotors, wat die hele padoppervlakte beslaan het, het agter mekaar gery en ‘n draai genader toe daar ‘n motorvoertuig van voor af gekom het en nie van die padoppervlakte wou gaan nie. Om ‘n kop-aan-kop ongeluk te vermy, het die bestuurder van die voorste Abnormale vragmotor besluit om sy vragmotor tot stilstand te bring.

Die bestuurder en sy assistent van die agterste vragmotor het egter nie verwag dat die voorste vragmotor so skielik sal rem nie en het van agter af in die voorste vragmotor vasgery. Aangesien albei trokke groot myn vragwa-bakke vervoer het, is die agterste vragmotor se perd so erg beskadig dat beide die bestuurder en die assistent vasgepen was in die vragmotor.

Die R511 pad was vir byna ‘n uur vir verkeer gesluit. Die reddingstoerusting van Thabazimbi se Nooddienste was in vir diens en dus nie beskikbaar nie. Die Munisipale brandweer se reddingstoerusting is ontbied en gebruik en later is Amandelbult Myn se Brandweer afdeling met hulle reddingstoerusting ook om bystand genader.

Aangesien hierdie tipe swaar vragmotor ongelukke nie gereeld in Thabazimbi omgewing voorkom nie, is die reddingstoerusting wat huidig tot die nooddienste se beskikking is, nie geskik vir reddingsoperasies vir sulke swaar vragmotors nie, maar wel net vir ligte voertuig ongelukke. Desnieteenstaande, is daar met kennis en ervare nooddienspersoneel plan gemaak en die hele reddingsoperasie het ongeveer twee en ‘n halwe uur geduur om die twee persone van die wrak te bevry.

Die bestuurder van die vragmotor wat vasgepen was, se regtervoet is ernstig beseer en hy is later die aand oorgeplaas na ‘n hospitaal in Rustenburg. Sy toestand is stabiel en hy is buite gevaar. Sy assistent is slegs lig beseer.

Later is Kumba myn se hulp weereens ingeroep vir bystand om die perd vragmotor onder sy wa uit te trek sodat ‘n ander perd gebruik kon word om die Abnormale vrag te kon skuif na ‘n veilige oornagfasiliteit sodat ander reëlings getref kon word.

Henk Havenga van Thabazimbi Krisis Beheer bedank graag alle mediese personeel van die provinsie wat op die toneel was asook die Munisipale personeel, Munisipale verkeersafdeling, Provinsiale verkeersafdeling, Amandelbult Myn se brandweer-afdeling, Thabazimbi Krisis Beheer, die plaaslike SAPD, lede van die publiek wat daar gehelp het en die persone wie se name dalk uit gelaat is. “Hul hulp word opreg waardeer en bewys maar net dat saam kan ons ‘n wenspan maak.” Sê Havenga. Foto’s: Jakobus van der Merwe.