SAP en boere moet saamstaan teen misdaad

Deur Hennie Pauw

THABAZIMBI – ‘n Beroep is op boere gedoen om veiligheidstrukture daar te stel buite die bestaande boereverenigingstrukture tydens ‘n vergadering wat verlede week in die Trollopesaal plaasgevind het.

Die vergadering, wat deur die polisie geïnisieer is, en goed bygewoon is deur boere, het ten doel gehad om beter samewerking tussen boere en die polisie in die Thabazimbi Cluster te ontwikkel.

Politiek tussen boereverenigings en individuele boere kan die bestryding van misdaad in landelike gebiede strem. Die skep van ‘n Gemeenskaps Polisiërings Forum (GPF) sal oor die grense van landbouverenigings heen, ‘n grondslag vir samewerking met die polisie vorm, het Gert Snyman (Thabazimbi Belastingbetalersvereniging) en Machiel Reynecke (TLU) aangevoer

Boere is versoek om inligting rakende hul eiendom en werkers aan die polisie te verskaf sodat ‘n databasis ontwikkel kan word wat sal help in die hantering en oplossing van misdade. Van die boere het egter aangedui dat hulle ongemaklik voel om al die inligting beskikbaar te stel omdat dit in die verkeerde hande mag beland.

Vir elke polisiestasie in die Thabazimbi Cluster, naamlik Thabazimbi, Dwaalboom, Hoopdal, Cumberland en Northam, sal ‘n GPF gestig moet word. Elke GPF sal saamgestel word deur drie boere en ‘n polisielid vir elke area. So sal die Thabazimbi GPF bestaan uit drie boere elk uit Makoppa, Sentrum/Kransberge, Koedoeskop en Kwaggasvlakte-plotte.

Volgens lt-kol Moseki, bevelvoerder van die Thabazimbi-polisiestasie het die polisie erns met die boere se veiligheid en versoek dat taal nie ‘n struikelblok vorm met hul gemeenskaplike doelwit nie. Sy het ‘n beroep op boere gedoen om te verstaan dat hul soms in Engels bedien word.

Adj Jaco Havenga, in beheer van die plasesektor, het daarop gewys dat die gebied groot is en verduidelik waarom inligting vir sy databasis aangevra word. Behalwe vir die stigting van die GPF’s en die ontwikkeling van die databasis, is boere weer daaraan herinner om werk te maak van die oprigting van bruin-en-geel borde met plaasnommers. Die plaasnommers is by die onderskeie polisiestasies beskikbaar. Havenga kan ook gekontak word by 083 360 9698.

Die rol van GPF-lede is verduidelik. Lede van die GPF sal die leiding neem op ‘n misdaadtoneel ten opsigte van kommunikasie en monitering van toegangsroetes. Hulle moet ook help met die beveiliging van misdaadtonele sodat belangrike leidrade nie verlore gaan nie.

Snyman het gesê dat as die strukture in plek is werk gemaak kan word van behoorlike kommunikasiestelsel met inbegrip van lug-tot-grond radio’s, asook die ontwikkeling van ‘n radio-veiligheidskanaal. Polisie se hande word versterk as toerusting soos vinnige reaksievoertuie uit die boere se geledere kom.

Kapt Shelton het aan boere verduidelik dat dit belangrik is om misdaadtonele te beveilig en eers te wag op speurders en lede van die forensiese afdeling. Slegs in uitsonderlike gevalle, en slegs met toestemming van die plaaslike stasiebevelvoerder, mag daar van private spoorsnyers gebruik gemaak word. Polisiespoorsnyers is opgelei om bewysstukke te bewaar vir vervolgingsdoeleindes.

Een van die boere, Lourens du Plessis, het applous van die boere uitgelok vir sy kommentaar dat boere verantwoordelik gemaak word vir hul eie veiligheid terwyl hy dit as die taak van die regering beskou. Hy het gesê dat Julius Malema verantwoordelik gehou word vir sy uitsprake, wat mag lei tot plaasmoorde soos die onlangse moord op Douw Brummer en geëis dat ‘n stelsel soortgelyk aan die kommandostelsel teruggebring word waar boere destyds behoorlik opleiding ontvang het.

Machiel Reynecke het ‘n beroep op boere gedoen om in te skakel by omgewingsaksies en betrokke te wees by strukture, paraat te wees, veiligheidsprosedures te volg en op te let na tekens wat dui op gevaar. Gereelde kontak met bure is belangrik asook die dokumentering van arbeiders se besonderhede (bv deur foto’s en vingerafdrukke), veral van diegene wat nie Suid-Afrikaanse burgers is nie.