Northam Boerevereniging besoek Gravelotte

Northam Boerevereniginglede voor die plaasingang van Johan Rabie.

GRAVELOTTE –  Die Northam Boerevereniging het op 4 en 5 Oktober 2011 ‘n uitstappie na Mpumalanga onderneem, met die doel om meer te leer aangaande Swartwitpense en Buffels, en hoe daar suksesvol met die diere geboer kan word.

Op 4 Oktober is die plase van mnr Piet Warren besoek. Hy het tydens ‘n interessante lesing genoem dat die Jagbedryf tans die Wildboerdery dryf, en dat daar ±37 miljoen geregistreerde jagters in die wêreld is. Swartwitpenskoeie jag tans vir 6000-8000 US Dollar. Vir ‘n Swartwitpensbul met ‘n horinglengte van meer as 45 duim, en ‘n swart gesig, is oorsese jagters bereid om tot R1 miljoen te betaal. Nog interessanthede wat mnr Warren die groep meegedeel het is dat Swartwitpense hul kalfies wegsteek vir solank as 3 tot 5 weke, en hul grootste gevaar is rooikatte bedags, en luiperds snags. Swartwitpense is nie sosiale diere nie, en daar is min uitbraak van bek-en-klouseer. Hul word ook baie gou mak. Hy het ook genoem dat hy twee bokke twee jaar uitmekaar gehou het, en toe hy hul saam in ‘n kamp jaag, hulle mekaar dadelik herken het. Swartwitpense eet net lang gras, en is nie lief vir byvoeding nie. Die dag is afgesluit met ‘n braai by Mahlahla Lodge, waar die groep oornag het.

Op die tweede dag van hul uitstappie is die plaas van Johan Rabie besoek. Hy boer ook met Swartwitpense, asook Buffels en Njalas. Hy het sy beeskudde verkoop om buffels aan te koop, en het die groep breedvoerig ingelig oor die voordele en winsgewendheid van die buffelboerdery, hoewel dit ‘n baie temperamentele spesie is. Niemand het dit van die voertuie af gewaag nie, en na ‘n verfrissende wildrit in die reën het die groep huiswaarts gekeer.

Vir meer inligting aangaande Northam Boerevereniging, skakel of sms Mari Meintjes 0820864915.