My pragtige dorp het in ‘n ashoop verander

Moeg gepraat ek stem saam met jou dit is een groot gemors en niemand gee om nie. Ons dorp is vuil, papiere en rommel waar jy kyk en tuinvullis. Orals voor besighede lê swart sakke vol rommel en moet nie eers van die dreine wat orals oorstoot, en in Vanderbijlstraat voor die haarsalon waar vuil riool water uitspuit in die straat en ‘n stank reuk los nie..  Gereeld word dit oopgemaak maar dit is nou ‘n weeklikse probleem. Oorsese besoekers besoek JB Curio shop en die stank en oop straal riool tref hulle ook. Hulle dink seker Thabazimbi is ‘n agtertangse dorpie.

Uitbreiding 18 is ‘n skande, ek wil nie eers verniet ‘n erf daar hê nie.  Dit is ‘n gemors, orals waar jy kyk, grillerig, en die gate in die pad wat onbedek is. Baie ouers neem hulle kinders daarheen vir bestuurslesse, maar jy wil ook nie hê jou kinders se aandag moet afgetrek word deur al die rommel nie.

Kom ons raak trots op ons dorp, leer die kinders en volwassenes om nie rommel te strooi nie, moet nie jou swartsakke oorkant die straat gooi en dink dit sal van self verdwyn nie.

Kom ons maak ons sypaadjies mooi, al bly jy in ‘n myn huis, dit is jou plig om jou erf en sypaadjie netjies te hou en dreine wat oorloop te rapporteer, moenie alles die myn se probleem maak nie, hulle sorg reeds goed genoeg vir jou.

Vir die Munisipaliteit vra ek groot asseblief: die oop stuk grond agter die bottelstoor en lisensiekantoor, maak asseblief vir ons ‘n netjiese (dumpingsite) wat omhein is met ‘n paar groot bins sodat ons wat lief is vir tuinwerk en netjiese sypaadjies ons afval daar kan plaas asook dalk ‘n houer vir glas ensovoorts. Almal het nie oop bakkies om asgate toe te jaag nie en wat ook gevaarlik is vir vrou alleen.

Kom ons begin groen dink aangesien dit so in die mode is.

Lief vir my dorp.