Kunstenaars steel kollig tydens Feestyd Safari

Rina Stander, Marolien van der Merwe (Maro’s Kuns Studio) en Windi van Breda.

THABAZIMBI – Die Tjokkers (Gr R’e) van Laerskool Thabazimbi het op Vrydagaand 4 November hul jaarlikse Feestyd Safari aangebied.

Nege besoekpunte het hul deure vanaf 18:00 tot 22:00 oopgemaak sodat Safari-gangers die kans kon kry om vroeë kersinkopies te doen.

Volgens die safari-gangers was Coffee Bean, met sy kreatiewe kunstenaars, die gees van die besoekpunte en kon daar heerlik saamgekuier word terwyl die kunste as aanknopingspunt gebruik is.

Dié kunsuitstalling was een van die grootste uitstallings wat die dorp in ‘n lank tyd gehad het, met 21 kunstenaars en 200 kunswerke was Coffee Bean ‘n fees vir die oog. Hulle bedank graag vir Alida van Wyk, eienaar van Coffee Bean vir haar kuns-entoesiasme en al haar moeite wat sy vir hierdie geleentheid aangegaan het.

Karikatuurtekeninge, ekspressionistiese uitbeeldings, abstraksies asook helderkleurige akrielwerke was te koop aangebied, terwyl Marolien van der Merwe van Maro’s Kuns Studio, kuns-geselsies met die feesgangers aangeknoop het.

Kuns is ‘n gesamentlike passie wat hierdie besonderse groepie kunstenaars deel en is dit ‘n stille weerspieëling van hul wêreldsperspektief. Kuns is die perfekte uiting aan kreatiewe behoeftes en ‘n ekspressiewe kanaal na buite, so tel gerus daardie verfkwas op, wie weet, daar is dalk ‘n kunstenaar wat wag om uit te breek.

Maro’s Kuns Studio wil graag die volgende borge bedank: Armand Knoetze van Steinmann Construction, Hendrik vir die klanktoerusting en Alida vir die gebruik van die perseel.

Zettie Pelser het die toekenning ontvang vir die Beste versameling kunswerke.
Bealde Enslin en Lienkie Lombaard, ‘n bekende skilder van Leeupoort.