Kleurvolle bandanas vir Pappa Graham

Anthony Tomsett (12) van Laerskool Koedoeskop saam met die skoolhoof, mnr Gustav Grobler op 21 Oktober 2011, nadat Anthony 306 Sunflower Fund-bandanas vir sy medeleerlinge en personeel uitgedeel het.
Die leerlinge, personeel en terreinwerkers van LS Koedoeskop het almal 'n Sunflower Fund-bandana by Anthony ontvang.

KOEDOESKOP – ‘n Twaalfjarige leerling van Laerskool Koedoeskop, Anthony Tomsett, het ‘n merkwaardige projek aangepak om 333 bandanas vir sy skool en sy Pa se mediese versorgers te befonds.

Anthony, ‘n Gr 6 leerling het op Vrydag 21 Oktober 306 bandanas aan al die leerlinge, personeel en terreinwerkers van die skool uitgedeel.

Hy wou met hierdie poging mense bewus maak van hoe belangrik dit is om die kankerverenigings te ondersteun. In dié geval die Sunflower Fund wat baie betrokke is by leukemia, waarmee sy Pa vroeër vanjaar gediagnoseer is.

Anthony het ‘n totaal van 333 bandanas by Pick n Pay Warmbad, Pick n Pay Nylstroom en Pick n Pay Witbank aangekoop.

Hy wil graag almal bedank wat hierdie spesiale dag vir hom moontlik gemaak het en die dag saam met hom gedeel het, veral vir skoolhoof, mnr Gustav Grobler en sy top span personeel van Laerskool Koedoeskop.