Huisbraak poging gefnuik

THABAZIMBI – ‘n Poging tot huisbraak is op Dinsdagmiddag omstreeks 15:00 goed in die wiele gery nadat ‘n plaaslike sekuriteitsmaatskappy etlike minute nadat die paniekknop op hul sekuriteitsisteem afgegaan het, op die toneel opgedaag het.

‘n Jong meisie, woonagtig te Negendelaan was alleen tuis toe ‘n jong swart man namiddag hul voordeurklokkie etlike male gelui het, met die doel om te bepaal of die inwoners tuis was. Sy het die man dopgehou vanaf hul swart en wit kringtelevisie-kameras, aangesien sy te bang was om die deur oop te maak. Sy het gesien hoe hy drie van sy makkers nader wink toe sy nie die deurklokkie beantwoord het nie.

Die vreesbevange meisie het haar pa geskakel en hy’t haar aangesê om die paniekknoppie op hul huisalarmsisteem te druk. Die plaaslike sekuriteitsmaatskappy, Ikatiseng Security, se reaksie-eenheid, tesame met die SAPD was binne minute op die toneel. Die vermeende inbrekers het geskrik en oor die erf se agtermuur gespring.

Volgens Jaco “Pottie” Potgieter, bestuurder van Ikatiseng sekuriteit, word elke paniekknop-druk as ‘n noodsituasie gesien. Hy sê dat huisbrake al hoe meer gereeld voorkom hoe nader daar aan die feesseisoen beweeg word. Misdadigers hou die huise dop en weet wanneer die inwoners nie by die huise is nie. Hy raai die gemeenskap van Thabazimbi aan om hul sekuriteit op te skerp en meer paraat te wees vir vreemdelinge in die buurt. Ken jou buurman en jou buurt.