Feestyd Safari


Hennie Pauw
THABAZIMBI – Ten spyte van reën en rukwinde het die Feestyd Safari, die Tjokkerskool se fondsinsamelingsprojek, op Vrydagaand 4 November, ‘n hele aantal mense “strate toe” gelok.
Thabazimbi Laerskool se Gr R’s, oftewel die Tjokkerskool, bied vanjaar vir die tweede maal die Feestyd Safari aan. Vanjaar se Safari het weer eens bewys dat hoë gehalte Kersgeskenke reeds vroeg-vroeg in Thabazimbi aangeskaf kan word om die latere Kersstormloop te vermy.
Nege punte deur die dorp kon besoek word, waar geëet kon word, Kersgeskenke aangeskaf kon word of sommer met die oë gekoop kon word.
Besighede, gastehuise, private persone en koffiewinkels het uitgehaal om die gaste te trakteer. Daar is persente en eet- en drinkgoed uitgedeel aan besoekers en kleurvolle versierings het gaste verwelkom. By party plekke was daar so baie om te sien dat besoekers afgeskaal het en uiteindelik minder punte besoek het as wat aanvanklik beplan was.