Eet jou vangs

4 November 2011

Wilhelm Bekker, oftewel, “Katvis” soos sy rubriek in Buite, bylaag tot Beeld Dinsdag 25 Oktober, bekend is, het ‘n stelling gemaak wat menige kompetisie-hengelaar, soos hyself sê, na vlugsout sal laat gryp. Dit is naamlik dat die uitheemse vissoorte soos karp (gewone karp, graskarp en Chinese karp) eerder vir aandete voorgesit moet word as om dit terug in die dam of rivier te gooi.

Indringervis en hul status in die hengelwater is volgens Bekker ‘n redelike tameletjie. Hierdie spesies sluit ook verder in swartbaars, forel, en ander kleiner spesies. Om hierdie vis te vang verseker ‘n aangenaam en opwindende hengelervaring maar dit is kwalik die moeite werd as die invloed van hierdie spesies op ons inheemse visbevolking in ag geneem word. Die feit is dat hierdie volksvreemdes nie toegelaat behoort te word om hul vernietigingswerk voort te sit nie.

Die Clanwilliam-geelvis en die Kaapse witvis is op die randjie van uitwissing vanweë die impak van swartbaars en forel. Die baars en forel eet nie net die geelvis nie, maar ding ook om hul voedselbronne mee. Karp dolwe die bodem om en vreet hope inheemse spesies se eiers op. Karp teel ook geweldig vinnig aan en vreet alles wat voorkom.

Die vraag hier is of dit in die belang van ons ekosisteme is dat die vis teruggeplaas behoort te word nadat die hengelaar dit uitgetrek het. Bekker nooi alle hengelaars en lesers uit om hul mening te lug en hom te kontak by wilhelm@wbi.co.za.

(Net soos al die swart wattelbome eintlik afgekap moet word en eerder in houtskool vir vure verwerk behoort te word vir goedkoper brandstof aan die massas, moet daar dalk gekyk word dat hierdie visse eerder uitgetrek en verwerk word vir goedkoop voedsel vir die massas. Mens kan nogal dink dat oor so ‘n naweek van landswye hengelkompetisies, ‘n hele paar ton vis, wat voedsel vir die massas kan word, net so teruggegooi word. Hou die goudvissies en koi’s maar net vir die visbak of jou visdam en moenie so jammer vir die vissies se ingeperkte lewe voel dat jy hulle in ‘n rivier of dam vrylaat nie.– RED)