Boere mag burgerlike arrestasies uitvoer

Al die hoofde van polisiestasies in die Thabazimbi-tros het die vergadering met boere die afgelope week bygewoon. Van links is Adj Dave van Heerder (Hoopdal), Lt-kol Moseki (Thabazimbi),Kapt Magwai (Cumberland), Kol Makubela (Thabazimbi Tros-bevelvoerder) en Kol Schmidt (Northam).

Hennie Pauw

THABAZIMBI – Tydens ‘n goed bewoonde vergadering in die Trollope-saal Dinsdag is daar voel-voel begin om ‘n beter samewerkingsverhouding tussen boere en die polisie in die Thabazimbi-omgewing te ontwikkel.

Die uitruil van inligting het ‘n belangrike rol gespeel en een van die kwessies wat bespreek is, is die moets en moenies tydens die uitvoer van ‘n burgerlike arrestasie. Dié kwessie is hanteer deur Kapt Thapela (SAP Thabazimbi) en Kol Schmidt (SAP Northam).

Die doel van ‘n burgerlike arrestasie is die beskerming van inwoners van Suid-Afrika en die handhawing van wet en orde. Dit stel ‘n gewone burger in staat om, sonder ‘n lasbrief, ‘n arrestasie uit te voer.

‘n Burgerlike arrestasie kan uitgevoer word deur ‘n lid van die publiek in wie se teenwoordigheid ‘n misdaad gepleeg word. Dit beteken dus dat die arrestasie nie uitgevoer mag word deur ‘n derde persoon wat nie op die misdaadtoneel teenwoordig was nie.

Indien die oortreder weerstand bied, mag genoegsame geweld gebruik word om die oortreder onder beheer te bring. Geen ontoepaslike geweld mag gebruik word nie en indien die oortreder nie weerstand bied nie, mag geen geweld gebruik word nie. ‘n Ongewapende aanvaller en een wat weghardloop mag nie geskiet word nie.

Waar ‘n aanval dreigend is of reeds begin het, kan die verdedigingsaksie as optrede in noodweer geklassifiseer word. ‘n Aanvaller of betreder met ‘n wapen in sy hand kan hanteer word as ‘n dreigende situasie. As die lewe van, nie net die verweerder nie, maar ook sy naaste s’n (bv dié van ‘n gesinslid of buurman) bedreig word, kan in noodweer opgetree word.

Kol Schmidt het gemaan dat emosie en frustrasie nie die oorhand moet kry wanneer ‘n oortreder onder bedwang gebring en gearresteer is nie, want dit kan die saak teen die oortreder verswak.

Die oomblik wat die oortreder onder beheer gebring is, mag geen verdere geweld teen hom gebruik word nie. Hy mag nie gemartel word nie en nie in onveilige omstandighede aangehou word nie, en moet so gou moontlik aan die polisie oorhandig word. Sy regte sal dan aan hom verduidelik word.

Die hantering van siviele motors op openbare paaie en patrollie van plaaspaaie is ook bespreek. Die polisie het aangedui dat hulle ten gunste is van patrollering van plaaspaaie, want die teenwoordighede van patrollies dien as afskrikmiddel vir enigeen wat misdaad beplan.

Die wet bepaal egter dat ‘n groen lig nie as uitkenningsteken vir hierdie patrollies gebruik mag word nie, asook nie rooi of blou ligte nie. Op openbare paaie mag motors nie gestop word deursoek te word of om insittendes te identifiseer nie. Slegs op privaateiendom staan dit boere vry om onbekende voertuie voor te keer.

(Volgende week verskyn ‘n opvolgberig oor die ander kwessies wat tydens die vergadering bespreek is.)