APK hou mini-basaar

Die eersteplek wenner van die potjiekoskompetisie was Louise Penzhorn met ‘n beesskenkelpot. Saam met haar op die foto is ds Albert Boshoff van die AP Kerk.

THABAZIMBI – Die AP Kerk Thabazimbi het op Saterdag 29 Oktober ‘n mini-basaar op hul kerkterrein aangebied.

Vir die geleentheid was net ‘n vleistafel, met pryse uit die verlede, en potjiekos en ‘n veiling beplan. Aangesien dit ‘n “mini” geleentheid was, is daar drie beeste en drie varke bewerk. Omdat die potjiekos ‘n tydjie duur om gaar te word, en beoordeel te word, het die gedagte spontaan onder die lidmate na vore gekom om ook pannekoek en poeding en worsbrode en koeldrank aan te bied. By die veiling is onder meer vyf groterige Hentiesbaai-kabeljoue aangebied.

Die 10 potjiekos-deelnemers se vure het net mooi gebrand toe daar amper ‘n buitjie reën uitgesak het en enkele minute nadat almal se afdakkies opgerig is, het die reën verbygetrek…

Daar is heerlik saam gekuier en die vleistafel is goed ondersteun. Van 12:00 af het die beoordelaars, Marie Steenekamp, Maryna Loots, Michell Loubser en ds Dirk Lauffs, die 10 verskillende potjies beoordeel, waarna basaargangers heerlik kon smul. Daar was seekos-, bees- en skaap-, hoender- en afvalpotjies gemaak. By die prysuitdeling is die veiling hanteer waar die Hentiesbaai-kabeljoue, handwerk-items en ‘n vee-trog verkoop is.

Namens die organiseerders bedank hulle die lidmate en die lede uit die gemeenskap wat hierdie dag ondersteun het, selfs al was daar ‘n hele paar ander aktiwiteite in die dorp aan die gang. “Alle eer aan ons Hemelvader, die verwagte begrote inkomste vir hierdie mini-basaar was bo verwagting oorskry”. Sê ds Albert Boshoff.