Sweet tap in Thaba sonder krag

THABAZIMBI – Te midde van warm weer het sommige Thabazimbiërs goed gesweet verlede Donderdag en Vrydag toe die krag vir meer as 24 uur af was vanweë ‘n kabelprobleem.

‘n Probleem het op die 11 000 V ondergrondse kabel tussen die Thaba Village Substation (naby Foodzone) en die Central Substation (naby Micromatica) ontstaan wat ‘n groot gedeelte van die suidwestelike deel van die dorp sonder krag gelaat het.

‘n Las in die kabel naby Judithlaan se T-aansluiting met 13e Laan, het opgeblaas toe ‘n probleem ontstaan het wat veroorsaak word deur ‘n te hoë lading en oormatige verhitting. Die kragonderbreking het geduur vanaf vieruur Donderdagmiddag tot Vrydagmiddag sesuur.

Volgens die Elektrisiteitsafdeling by die Munisipaliteit is daar van ‘n Stamba masjien gebruik gemaak om uit te vind waar die oorsprong van die probleem lê, aangesien ondergrondse probleme nie maklik opspoorbaar is nie. Dié masjien stuur magnetiese pulse uit wat die weerstand op die kabel bespeur. ‘n Afwyking in die weerstand sou dui op die posisie van die probleem.

Aangesien hierdie masjien nie beskikbaar is in Thabazimbi nie, is die masjien en operateurs reeds Donderdagaand uit Rustenburg ontbied. Dit is ‘n tydsame proses en hoewel die posisie van die probleem vasgestel is, moes die hele kabel gemonitor word, ‘n afstand van sowat 5 km. Die hegting van die kabel het sowat 5 ure geduur.

Blykbaar het daar vantevore (vroeër vanjaar) ‘n probleem by dieselfde voeg ontstaan.

Hennie Pauw