Salarisverhogings vir raadslede buitensporig

AfriForum het sy misnoeë uitgespreek oor die voorgestelde verhogings van salarispakkette van tot R815 000 per jaar vir munisipale raadslede. Dít kom nadat die Suid-Afrikaanse vereniging vir plaaslike regerings (Salga) die Parlement verlede maand versoek het om die wyse waarop raadslede vergoed word, dringend te hersien.

Dié verhogings kan belastingbetalers tot R7 miljard ‘n jaar kos. Indien dié verhogings plaasvind, sal dit ‘n miskenning wees van die toestande waarin die armstes van die armes in Suid-Afrika moet leef, het Pieter Rautenbach, AfriForum se hoof van plaaslike regeringsake, gesê.

“Hoeveel meer hongeres en dakloses kan met R7 miljard gehelp word? Dit kom voor of die regering geen gewete het ten opsigte van die realiteite van die Suid-Afrikaanse samelewing nie,” het Rautenbach gesê.

Hy het bygevoeg daar moet bepaal word op watter wyse prestasie aan dié buitensporige verhogings gekoppel gaan word. “Die terugvoer wat AfriForum daagliks ontvang, is dat slegs ‘n klein persentasie raadslede produktief ‘n bydrae lewer tot dienslewering.  AfriForum se terugvoer van ons lede is dat die oorgrote meerderheid slegs die raadsvergaderings bywoon, sonder om enige verdere werklike sinvolle bydrae te maak,” het Rautenbach gesê.