Rits rond vir ‘n goeie doel

THABAZIMBI – Die feestyd is om die draai en binnekort is daar die ideale geleentheid om in feestelike luim kersinkopies te begin doen.

Laerskool Thabazimbi samel fondse in vir die Tjokkerskool (Gr R klasse), en kaartjies is nou weer te koop vir die jaarlikse Feestyd Safari wat plaasvind op Vrydag 4 November van 18:00 – 22:00.

Die Safari beloof om ‘n heerlike kuieraand van rondrits te wees, en jou kaartjie bied jou die geleentheid om gebruik te maak van spesiale aanbiedinge en ook nuwe voorraad vir kersfeesaankope te besigtig. Daar is nege besoekpunte op hierdie safari, en by die besoekpunte sal daar ook ‘n verskeidenheid van uitstallers wees.

Hierdie Safari is die ideale geleentheid om bestellings, bespreking en afsprake te maak by die verskeie besoekpunte en/of uitstallers, of om sommer net lekker rond te rits op ‘n heerlike Thabazimbi somersaand!

Almal is welkom, so moenie wag vir die laaste oomblik om feesseisoen inkopies te doen nie – kry nou jou kaartjie (slegs besoekers met kaartjies sal die besoekpunte en al die uitstallers daarby kan besoek).

‘n Kaartjie vir die Feestyd Safari kos slegs R30 vir volwassenes en R15 vir kinders (onder 12) en is reeds beskikbaar by die Tjokkerskool (Laerskool Thabazimbi) of by enige van die deelnemende besoekpunte (sien advertensie in volgende week se koerant).

Vir meer inligting kontak Alta op 083 289 1032.