My Storie

Geskryf deur Tarrie die weggooi-tefie

Julle sal onthou dat ek uit die water gered is toe ek ‘n baie klein baie baba-hondjie was. Nadat ek by twee verskillende huise gebly het, het ek by Ounooi geland. Ek is  nou al ‘n groot hond en bly nou al ‘n hele ruk by Ounooi.

Ek het baie aande in Ounooi se huis geslaap. Een nag word ek wakker. Iets voel verkeerd… Ek spring op teen Ounooi se bed. Sy haal swaer asem. My hartjie word sommer baie bang. Ounooi is siek; ek moet gaan hulp soek. Ek hardloop na die ander nooi se kamer toe. Dis al ‘n hele paar aande wat sy by ons kom slaap. Ek spring teen haar bed op, blaf en lek haar hand. Sal sy dan nooit wakker word nie?

Eindelik hoor sy my.

“Wat is fout, my honne?” vra sy. Ek hardloop deur toe, blaf en hardloop weer terug. Dit doen ek ‘n paar keer. Dan verstaan sy! Dankie tog! Sy kom agter my aan na Ounooi se kamer toe.

Wat alles daarna gebeur het, weet ek nie. Daar was vreeslik baie gehardloop, harde stemme en ander geraas wat ek nie geken het nie. Baie bang het ek onder Ounooi se bed gaan lê en bewend na die deurmekaarspul geluister.

Skielik skrik ek nog erger! Waar vat hulle my Ounooi nou? Ek hardloop agterna en roep: “Bring haar terug! Waar gaan julle?” Maar niemand luister eers na my nie. Hulle laai Ounooi agter in ‘n groot voertuig en met ‘n groot geraas jaag hulle weg. So vinnig as wat ek kan hardloop ek agter hulle aan, maar later sit ek sommer in die middel van die pad van moegheid. Die voertuig moet Ounooi in is al lankal weg…

Ek kyk om my rong. Ek het nie ‘n idee waar ek is nie. Bang0bang kruip ek daar in ‘n skaduwee tussen stink vuilgoed weg. Ag, tog! Wat nou? Hoe gaan ek ooit weer my Ounooi kry?

Net toe ek wil begin huil, hoor ek fyn tjankgeluidjies. Maar…dis dan ‘n babahondjie wat so huil! Ek begin rondsnuffel. Dan… daar onder ‘n klomp papiere lê ‘n klein babahondjie en huil. Ek stap stadig nader. Hy huil harder toe hy my sien. Ek gee hom ‘n lekkie deur die gesig. Bewend kom lê hy styf teen my en kerm saggies. Ek dink aan my eie ondervinding toe ek ‘n babatjie was, en druk hom stywer teen my bekkie. Sy kermgeluidjies word al sagter, tot hy slaap. Ek word ook al vaker, totdat ek ook niks meer weet nie.