Diere wat raak gery word

Deur TAR

TAR wil ‘n dringende versoek tot alle troeteldier-eienaars rig: maak asseblief seker dat julle viervoet-kinders in die erf bly. Ook katte kan tot eie erf beperk word, met net ‘n klein bietjie moeite van u, hulle ‘ouers’.

Dit gebeur so dikwels dat ‘n hond of kat in die strate ronddraf. Baie keer eindig dit in ‘n groot tragedie – die diertjie hardloop voor ‘n voertuig in, en word raakgery. Ongelukkig is die diertjie nie altyd dadelik dood nie, maar lê (soms vir ure!) en ly voordat die arme diertjie doodgaan.

Een ding verstaan ek nou nie. As ek uit ‘n parkeerplek trek en ‘n ander kan stamp, of ‘n winkeltrollie, of (behoede my!) ‘n persoon, klim ek uit, kyk wat die skade is en gaan daarvandaan verder met die mees paslike aksie. Maar… as ek ‘n katjie voor my kar inhardloop en ek hom raakry, doen ek nie eers die moeite om te stop nie.

Sou ‘n ander persoon genoeg omgee om te stop om die ongelukkige diertjie minstens uit die pad te neem of, as hy nog leef, na ‘n veearts te neem, blaas ek die toeter vir hom/haar, voer die barmhartige Samaritaan ‘n paar keur-woorde toe, en jaag met ‘n brullende enjin om die ongelukstoneel.
Ek glo daar is iets verkeerd in ‘n samelewing vir wie ENIGE lewe min genoeg beteken, dat ek maar net ‘n wesentjie in pyn kan verbygaan, sonder om my hulp aan te bied. Wat het van empatie en verantwoordelikheidsin geword teenoor die swakkere wat deur ons beskerm moet word? Waar staan dit geskrewe dat lewe (selfs dié van ‘n dier) so onbelangrik kan word? Is dit moontlik dat mense, wat veronderstel is om as Kroon van die Skepping om te geen vir die HELE skepping (nie net die gedeelte wat vir my geld in die sak bring nie), so blasé kan word dat ‘n wese in pyn nie meer my hartsnare roer nie?

Ja, dit is waar dat mense se lewens ‘belangriker’ is as diere s’n, MAAR NET AS DIT MENS KAN DOODMAAK as jy ‘n dier kan red. As ek in ‘n vloed tussen ‘n mens en ‘n dier moet kies om te red, sal ek verseker die mens red (as ek nie altwee gelyk kan help nie) maar insien enigsins moontlik sal ek beslis teruggaan na die dier toe. In ‘n geval waar ‘n diertjie raakgery word, sonder dat daar dan gevaar vir ‘n mens is, hoe kan jy dit verantwoord dat jy daardie diertjie laat lê om dood te gaan sonder om te help? Ek wonder maar net…