3-jarige dogtertjie amper ontvoer

THABAZIMBI – ‘n Driejarige dogtertjie is byna by ‘n plaaslike winkelsentrum ontvoer nadat sy vooruit gehardloop het om in ‘n koelte kolletjie vir haar mamma te wag.

Haar ma en ouma het agterna geloop, maar dadelik onraad vermoed toe ‘n swartman die dogtertjie nader. Hy het haar blitsig opgeraap terwyl sy grootoog en geskok na hom gekyk het. Haar hoog swanger ma het haar te hulp gesnel, maar die vermeende ontvoerder het geweier om die dogtertjie terug te gee, waarna die ouma die dogtertjie met geweld by hom gegryp en na hul voertuig gevlug het.

Die gesin wil anoniem bly, maar wil hiermee die gemeenskap van Thabazimbi waarsku om bedag te wees wanneer ouers saam met hul kleuters gaan inkopies doen, veral waar daar baie mense is. Moenie jou kind vir ‘n sekonde uit die oog laat nie.