Troeteldierwinkel ontkom brand nouliks

THABAZIMBI – Kwaaddoeners het na bewering op Sondagmiddag 2 Oktober kartondose wat agterin Bornman’s Troeteldierwinkel se buitekamer gestoor word, aan die brand gesteek en op die vlug geslaan.

Hierdie vlamme was egter so groot dat dit die houtbalke in die dak aan die brand gesteek het waarna die vuur dak langs versprei het.

Henk Havenga, koördineerder van Kumba se nooddiensspan, is deur ‘n inwoner gekontak wat die brand gewaar het. Hy was egter nog op die motorongelukstoneel naby Amandelbult en het die Kumba se brandweerspan geaktiveer.

Mnr Wolmarans, NRW Verkoeling se bestuurder asook die gebou se opsigter, is ook dadelik ontbied, waarna hy die eienaars van die omliggende winkels gekontak het.

Kumba se brandweerspan in samewerking met Thabazimbi Munisipaliteit se brandweerspan, wat eers nie die sleutel van die brandwa kon vind nie, en lede van die publiek het die vuur vinnig onder beheer gebring voor enige ernstige skade aan die gebou berokken is.

Geen saak van brandstigting is deur die eienaars van die gebou, wat tans in Musina woonagtig is, gemaak nie.

Volgens Bornman’s Troeteldierwinkel in Deenastraat se bestuur, is geen dier in die brand beseer nie aangesien hulle dadelik die deure van die winkel oopgemaak het sodat die geweldige rookwolke uit die gebou kon ontsnap. Assessors sal nog die brandskade vasstel.

Die skade aan NRW Verkoeling se gebou was ook minimaal.