Sensus 2011 – wees getel

Mpho Mogakane met haar amptelike Sensus 2011-drag sal vir die volgende 21 dae die Sensus-opname doen in Jordaan-, Koedoe- Maroela-, Poisetta-, Vanderbijl-, Hospitaal- en Mambastraat asook Eerste-, Tweede-, Vierde-, Sewende-, Agste- en Negendelaan.

THABAZIMBI – Ons tel julle omdat die mense van Suid-Afrika tel.

Só het mnr Trevor Manuel, beplanningsminister in die presidensie, op Tafelberg by die amptelike bekendstelling van Sensus 2011 gesê.

Altesaam 135 000 sensusopnemers, veldwerkers en oorsieners is opgelei vir dié reuse-taak waartydens Suid-Afrikaners in elke uithoek van die land getel moet word.

Manuel het ’n beroep op mense gedoen om aktief betrokke te raak by die proses. “Demokrasieë werk omdat regerings die besonderhede het. Die enigste manier om die besonderhede te kry, is deur mense te tel.”

Nêrens in die wêreld kon rekenaars ’n sensus vervang nie.

“Niks kan die aangesig-tot-aangesig- kontak met mense vervang nie omdat ons moet verstaan wat mense se lewensomstandighede is.”

Mnr. Pali Lehohla, statistikus-generaal, het gesê Manuel moet ’n plan vir die nasie uitwerk en hy maak op inligting uit die sensus staat daarvoor.

Alle veldwerkers is opgelei om hulself voor te stel as werknemers van Statistiek SA en om die doel van hul besoek duidelik te stel. Amptelike Sensus 2011 veldwerkers sal identifikasie kaarte wat hul foto en identiteitsnommer insluit, dra. Indien hulle dit nie toon nie, moet u daarop aandring.

Veldwerkers sal amptelike geel T-hemde, ‘n pet sak dra wat die Sensus 2011 logo sowel as die Statistieke SA logo op het. Sal ongeveer 35 minute neem om die vraelys te voltooi, afhangende van die hoeveelheid mense in die huishouding. U sal nie gevra word om enige finansiële inligting aan die veldwerker oor te dra nie. Lig u gesinslede in oor die Sensus 2011-besoek sodat hulle voorbereid is op ‘n besoek. Lig ook u huishulp in oor wat om te verwag en hoe om ‘n veldwerker te identifiseer.