Plaasaanvalle en trauma

Een van die psigiese gevolge van trauma is dat dit ‘n mens se hele lewens-en Godsbeskouing skud en jou selfkonsep mag benadeel. Daar is byvoorbeeld ‘n afname aan selfrespek en ‘n vrees dat jy die respek van andere verloor het. Die lewens van plaas-aanval slagoffers verander soms onherroeplik. Ongeveer 11% verkoop en trek, terwyl dié wat agtergebly, hul lewensstyl totaal verander. Trauma beteken om stukkend te wees: ‘n Persoon is getraumatiseer wanneer hy blootgestel word aan ‘n traumatiese gebeurtenis, wat werklike of dreigende dood of besering insluit, of ‘n bedreiging vir sy eie of iemand anders se fisiese integriteit beteken. Hy hoef dus nie noodwendig beseer te word, om getraumatiseer te wees nie.

‘n Trauma sluit altyd verlies in, derhalwe verkeer die persoon ook in rou. Al het die persoon nie fisies iets verloor nie is daar byvoorbeeld ‘n verlies van vorige oortuigings en beskouings wat nou bevraagteken of verwerp word. Die gevoelens wat so ‘n persoon ondervind, is “normale reaksies op abnormale situasies”: hulpeloosheid en afgryse, verlies aan sekuriteit, onsekerheid en vrees oor die toekoms, finans?ele kommernisse, verlies aan betekenis en motivering, bitterheid, wraakgedagtes, selfverwyt ens. Die persoon ervaar ook ‘benadeling in sy normale vermoë om dinge te hanteer, derhalwe is dit wys om vir ‘n hele ruk na die gebeurtenis nie belangrike besluite te neem nie. Daar is ook verskeie fisieke simptome wat hy mag ervaar.

Dit is belangrik dat daar een of ander “sin” uit so ‘n ervaring voortvloei. ‘n Trauma wat suksesvol deurgewerk is, laat jou gewoonlik ‘n dieper en wyser mens. Kompliserende faktore met plaasaanvalle is wel die Regering se grondbeleid vir boere, beide weens die wyse waarop spesifieke aspekte daarvan boerdery-aktiwiteite raak, asook die persepsie dat plaasaanvalle deel van ‘n veldtog uitmaak om boere vanaf hul plase te verdryf – ‘n persepsie wat versterk word deur grondbesetting. Plaasaanvalle word klaarblyklik, offis?eel, aan gebrek aan sekuriteitsmaatreëls toegeskryf. Plaasaanvalle word meestal ook nog as ‘n “aparte” misdaadkategorie hanteer. Hierdeur word dikwels verdere haat, rassisme, en soms vigilantisme, aangehits. Dit dra veral by tot die woede en magteloosheid wat talle boere na ‘n plaasaanval ervaar en gevolglike genesing vertraag. Plaasaanvalle behels dus gekompliseerde trauma wat aangespreek moet word want wat ookal die redes, trauma word ervaar. Vroeë trauma-ingryping mag bepaal of die meerderheid van plaas-slagoffers emosioneel sal oorleef binne ‘n redelike tyd en of hulle nog vir ‘n lang tyd deur vertraagde simptome getreiter sal word.

Deur Ilze Neethling (HPCSA Professionele Sielkundige Berader en Psigometris, 0721487048).