Paartjie oorleef gewapende roof

THABAZIMBI – Terwyl die res van Suid-Afrika op Saterdag 24 September die braaivleisvure aangesteek het ter viering van Nasionale Braaidag, het ‘n nagmerrie ontvou op die plaas Aapieskraal, tuiste van mnr Roelie Strick (54) en sy verloofde, me Jenny Van der Hoogen (44).

Dié plaas is sowat 13km vanaf Koedoeskop op die Britspad, twee plase vanwaar die renostersage op Maandagnag 26 September, afgespeel het…

In ‘n onderhoud met Jenny, probeer sy ‘n prentjie skets van die absolute uur van vrees terwyl ses gewapende swart mans hulle op hul plaas aangehou het.

Sy kan nou eers, nà twee weke, die verhaal vertel sonder om te huil. Die skok wat deur haar liggaam geruk het die oomblik toe sy om die huis se hoek kom en vier gewapende mans op haar afstorm, tref haar steeds wanneer sy daaroor praat. “Daar is nie woorde om te beskryf hoe magteloos jy voel wanneer jou geliefde deur nog twee ander gewapendes teen die grond vasgedruk word en jy nie weet wat volgende met jou gaan gebeur nie.” Sê Jenny dapper.

Volgens Jenny was dit net ‘n doodgewone Saterdagmiddag, hulle het ‘n rukkie gerus en teen 15:30 opgestaan om hul stoetbeeste te gaan versorg. Terwyl sy die huis gesluit het, het Roelie na die stoor gegaan om die voertuig te gaan haal. Voordat hy enigsins kon reageer, is hy deur die mans oorval, grond toe gegooi en is sy hande aan sy een voet agter sy rug vasgebind. Hulle het aanhoudend gedreig om hom te skiet. Een man het ‘n slagmes teen sy keel vasgedruk, terwyl ‘n tweede man ‘n handwapen op hom gerig het.

Nadat die vier mans vir Jenny oorval het, het hulle haar hande agter haar rug vasgebind en deur die huis geneem waar hulle vertrek na vertrek laaie en kaste uitgeruk het opsoek na waardevolle items. Ook die inhoud van die kluis, insluitende Roelie sy handwapen, kontant, selfone en ander persoonlike items, is gebuit.

Volgens Jenny was een van die aanvallers uiters aggressief en het die handwapen gedurig in haar gesig gedruk met opmerkings soos “do you wanna play”, hy het veral kwaad geraak toe hy uitvra oor ‘n ondergrondse kluis en sy daarop aandring dat hulle nie een het nie.

Intussen kon Roelie niks van buite hoor nie en net gelê en dink wat hulle besig was om met Jenny te doen. Hy het, net soos Jenny, gehoop en bid dat die aanvallers hulle nie seer- of doodmaak nie.

Jenny vertel dat die huis op ‘n stadium stil geraak het en die laaste wat sy van die aanvallers gesien het, was nadat hulle haar voete vasgebind het en met haar tasse, wat oorlopens toe gevul was met haar en Roelie se besittings, by die deur uit is. Sy het in spanning gewag vir hul terugkeer, maar na ‘n ruk het sy met verligting Roelie se stem gehoor. Nadat hy besef het dat die aanvallers op die vlug geslaan het, vier in een rigting, en twee in ‘n ander rigting, het hy huiswaarts gekruip en gerol opsoek na Jenny. Na ‘n lang gesukkel kon Roelie en Jenny daarin slaag om hul hande en voete los te maak en het na hul werkerskwartiere gehardloop om hulp te ontbied.

Buiten Jenny se vinger wat seergekry het toe die mans haar ringe van haar vinger af geruk het, en Roelie se kneusplekke, het hulle niks oorgekom nie.

Ondersoeke duur voort om vas te stel indien die renosterstroper wat op Maandagnag by Aapieskraal se wildhek geskiet is, verbind kan word met die gewapende roof. Geen arrestasies is nog gemaak nie en is die aanvallers nog op vrye voet.

Roelie en Jenny bedank Thaba Alarms, veral vir Gerrie en Gys wat hulle te hulp gesnel het, asook hul bure, Dirk Nel en sy kinders asook hul familie Hennie, Lola en Sunet Lombaard, die SAPD wat tot na twaalf die aand by hulle gewees het, veral Kaptein Ngobeni, Luitenant Majadi Bodo en Sersant Marcelle Schoeman. Hulle bedank ook die gemeenskap, vriende en familie vir al die foonoproepe en sms’e en met ‘n diep sin vir genade, hul Skepper wat hulle bewaar het.

Deur Estie Taljaard

estie@kwevoel.co.za