Ons lesers skryf – Waar is die geld heen?

Praat met enige van die ouers van hierdie jaar se matrieks oor die Matriek afskeid, en daar is ‘n teleurstelling in hul stemme. Dit is tog die dag wat jy as matriek die hele jaar na uitsien en vir die res van jou lewe onthou. Die Graad 11 leerders en hul ouers het skouer aan die wiel gesit  om fondse in te samel en ‘n aardige bedrag van oor die R100 000 is ingesamel. Daarby saam moes elke matriek R300 vir ‘n kaartjie betaal om die Matriekafskeid by te woon. Die saal het blykbaar baie mooi gelyk maar groot was ons teleurstelling om te hoor dat die kos onsmaaklik en nie op standaard was nie. Dat daar slegs een beker vrugtesap per tafel van 11 was vir die hele aand en dat koeldrank te koop aangebied is teen astronomiese pryse. Ouers was onder die indruk dat die R300 als insluit en party ouers moes deurry Setaria toe om ‘n geldjie te neem vir koeldrank. Oor die vermaak word min of niks gesê nie. Nataniel tree hierdie maand op in Thabazimbi en vir R250 per kaartjie kry jy ‘n ete en sien ‘n bekende Suid Afrikaanse verhoogpersoonlikheid. Waarvoor was al hierdie geld dan ingesamel en in wie se sak het dit beland? Was dit die indruk wat op hierdie jaar se matrieks se geheue behoue moes bly?

Wonder maar net.