Nog ‘n boer vermoor in plaasaanval

Douw Brummer, wat Dinsdagaand op sy plaas vermoor is, is hier saam met sy honde, wat vir hom soos kinders was.

DWAALBOOM – ‘n Boer van Dwaalboom/Makoppa-area, Douw Brummer, wat ook vee en plaasprodukte vervoer het, is Dinsdagaand vermoor toe hy terugkeer van ‘n aflewering.

Die 50-jarige Brummer van die plaas Goedverwacht, het ongeveer 21:30 teruggekeer nadat hy goedere afgelewer het, toe hy vermoedelik die verdagtes betrap het of deur hulle ingewag is.

Werknemers van Brummer het ongeveer 22:00 ‘n skoot hoor afgaan, maar nie ondersoek ingestel nie. Hulle het Woensdagoggend toe hulle vir werk aanmeld op sy lyk afgekom buite die huis op die grasperk. Hy was toe reeds ‘n hele aantal uur dood.

Hulle het ‘n buurman, David Freeburn, geskakel wat kort daarna opgedaag het. Hy het die polisie en die boerevereniging in kennis gestel. Volgens Freeburn het Brummer ‘n groot-kaliber skootwond in sy agterkop gehad, wat die moontlikheid laat ontstaan dat hy van agter (“execution style”) geskiet is of weggehardloop het toe hy geskiet is.

Spore van twee verdagtes is gevolg deur private- en polisiespoorsnyers tot laat Woensdag, sonder enige sukses. Die verdagtes het vermoedelik in die omgewing van Holfontein gevlug.

Volgens die Dwaalboom Polisie was die taak bemoeilik as gevolg van die feit dat die moord so laat ontdek is, wat die verdagtes baie kans gegee het om weg te kom. Omdat daar so baie veekrale in die omgewing is, is die spoorsny bemoeilik deur die beweeg van vee oor die spoor.

Ten minste een van die verdagtes was vermoedelik bekend aan Brummer en het vantevore vir hom gewerk. Een van die verdagtes word ook gekoppel aan twee diefstalle wat by Brummer voorgekom het. Sover vasgestel kon word, is twee gewere uit die kluis, asook ‘n selfoon gesteel.

Brummer het waarskynlik ‘n voorgevoel gehad dat sy lewe in gevaar is. Hy het aan familie gesê dat as hy iets sou oorkom, die persoon (wat tevore by hom ingebreek het), daarvoor verantwoordelik sou wees.

Volgens ‘n vriend van Brummer, veearts Louis van Deventer, was Brummer ‘n bees- en wildboer wat ook vervoerkontrakteur was. Hy het grootgeword en skoolgegaan in Thabazimbi en op die plaas geboer waar hy groot geword het. Sy broer het ook ‘n plaas in die omgewing.

Hy is beskryf as ‘n “stillerige” persoon wat, baie lief was vir sy vier Jack Russel-honde, vierwiel ry en jag. Hy het alleen op die plaas gewoon en laat ‘n broer, Hennie Brummer, van Pretoria en suster, Ina van der Westhuizen, van die Paarl agter.

Hennie Pauw